John Steenhuisen (links), DA federale leier, wens Isak Fritz, DA-premierskandidaat in die Noord-Kaap, sterkte toe vir volgende jaar se verkiesing.

Foto: Charné Kemp

Die DA sê die komende tussenverkiesing in wyk 1 van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley gaan uitdagend wees, met die teenwoordigheid van die Patriotic Alliance (PA) wat die stemme kan verdeel.

Oor die uitkoms van volgende jaar se provinsiale en nasionale verkiesing is die party positief en glo hy kan die ANC in die Noord-Kaap troef.

Dit volg op die besoek van John Steenhuisen, DA federale leier, aan verskeie Noord-Kaapse dorpe en die stad Kimberley om steun vir die party te werf. Steenhuisen sê die opkoms van ondersteuners uit verskillende gemeenskappe en sakesektore was “besonders goed”.

Tydens sy besoek is Isak Fritz, provinsiale voorsitter, as die party se premierskandidaat vir volgende jaar se verkiesing aangekondig. Fritz het in 1996 by die party betrokke geraak en is sedert 2014 ’n wetgewerlid. Hy gaan die provinsie in die volgende maande deurkruis om gemeenskappe te oortuig om vir die DA te stem.

John Steenhuisen (links), DA federale leier, wens Isak Fritz, DA-premierskandidaat in die Noord-Kaap, sterkte toe vir volgende jaar se verkiesing.

Die komende tussenverkiesing in Kimberley is uitgeroep nadat Ferguson Moses, die ANC se raadslid, onlangs uit die party bedank nadat hy die tussenverkiesing in Februarie in dieselfde wyk gewen het. Die ANC het ’n meerderheid van net een setel in die raad, wat die tussenverkiesing vir alle politieke partye belangrik maak.

Tussenverkiesing in wyk 1 belangrik
Met die tussenverkiesing in Februarie vanjaar, ná die dood van die vorige ANC-raadslid, het die ANC se steun van 41% in die 2021-verkiesing tot 32% gedaal, terwyl die PA se steun van 11% tot 25% gegroei het. Die DA het 25% teenoor sy vorige 36% behaal. Vaughan Settley, ’n onafhanklike kandidaat en vorige ANC-raadslid, het 13% van stemme gekry.

Fritz sê die wyk was voorheen in DA-hande.

“ ’n Mens kan Gayton McKenzie se PA nie vertrou nie, want hulle help die ANC om in ander munisipaliteite aan bewind te kom. Intussen gaan die ANC weer staatsdepartemente na die wyk stuur om dienste te lewer vir stemwerwing. Hulle maak reeds oral skoon en herstel slaggate. Ons sal ’n goeie veldtog voer en glo kiesers glo nie meer die leë beloftes nie. Dit is tyd vir verandering.”

Hy sê mense vertrou en bel DA-lede om hul probleme op te los, eerder as die ANC.

Steenhuisen sê die ANC is bekommerd oor die Veelpartyhandves waarin sewe politieke partye onlangs ’n pakt aangegaan het om die ANC in die provinsiale en nasionale verkiesing te troef.

In die Noord-Kaap het die ANC se steun in die 2019-verkiesing tot 50,8% gedaal.

“Kyk net watter verandering het Henriëtte du Plessis, DA-burgemeester in die Gamagara-munisipaliteit, in twee maande teweeggebring voordat sy op onwettige wyse verwyder is. Sy het lyfwagte afgewys en die ampsmotor ingeruil en twee bakkies gekry wat vir dienslewering gebruik kan word. Die kiesers het dit raakgesien.”
John Steenhuisen

“Die provinsie grens aan die Wes-Kaap wat dit makliker vir Noord-Kapenaars maak om te sien hoe goeie regering lyk en werk. Mense verhuis Wes-Kaap toe vir beter geleenthede. Ons onderwys- en gesondheidstelsel is stukke beter. Met geteikende ingrypings kan ons kiesers oortuig dat ons kwessies soos gesondheidsdienste en werkloosheid kan verbeter.

“Dr. Zamani Saul, premier, kan hom nie losmaak van die nasionale ANC wat vir beurtkrag verantwoordelik is nie. Dit het ’n groot invloed op ekonomiese groei en kiesers se daaglikse lewe. Saul kan homself nie as ’n ander soort ANC-leier bestempel nie. Hy is net so deel van die probleme soos nasionale werkloosheid en stygende misdaad.

“Landelike gemeenskappe ly die meeste onder werkloosheid en krimpende ekonomie.

“Ná 30 jaar van leë beloftes vra ons kiesers om ons vyf jaar kans te gee. Dit is nou of nooit, en daar is ’n dringende behoefte om verandering te bring, anders is daar niks oor om te red nie,” sê Steenhuisen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article