’n Toeris van Gauteng wat onlangs op lede van Die Voortrekkers, Landsdiens, AfriForum en die Rapportryerbeweging afgekom het wat die Burger-monument op Magersfontein skoonmaak, was so beïndruk dat hy sy beursie leeggemaak en die geld aan hulle geskenk het.
Die monument is ter nagedagtes van die burgers wat hier in die Anglo-Boereoorlog (ABO) gesneuwel het, opgerig. Marius Nagel, koördineerder van die projek, lid van die Rapportryerbeweging en bestuurlid van AfriForum Kimberley, sê dié toeris gaan jaarliks geld skenk om monumente te onderhou.
“Die departement van sport, kuns en kultuur in die Noord-Kaap en die Vrystaat pleit armoede en ’n gebrek aan personeel om monumente te onderhou. Dit sluit alle kultuurhistoriese monumente in, soos bv. die Robert Sobukwe-huis in Galeshewe. Gewone Suid-Afrikaners moet ons monumente onderhou, want die staat gaan nie. Wat meer belangrik is, is dat ons die jeug betrek sodat hulle ons geskiedenis kan leer. Dit is hoekom die vier organisasies betrokke is.
“Nog ’n projek is die opknapping van die Perdeberg-monument waarby die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en die Perdeberg-boerevereniging betrokke is. Die projek sal in Februarie onthul word net voor die 123ste herdenking van die oorgawe van genl. Piet Cronjé aan die Britse magte tydens die ABO.”
Nagel sê hy onderhandel met ander ABO-geesdriftiges om ander monumente in die Magersfontein- en Modderrivier-omgewing skoon te maak, wat Engelse monumente en die Skandinawiese grafte op Magersfontein insluit. Dit dra tot die bevordering van toerisme en gepaardgaande ekonomiese voordele by.





