Chereé en Johan Lategan by die padelbaan wat hopelik teen die einde April voltooi sal wees.

Foto: Charné Kemp

Groot opgewondenheid heers in Hartswater oor die padelbane wat binnekort hier oopmaak.

Dit is vermoedelik die eerste bane vir dié sportsoort in die Noord-Kaap. Padel is die wêreld se vinnig-groeiendste raketsportsoort wat op ’n baan kleiner as ’n tennisbaan gespeel word. Die vier mure is soos in muurbal, deel van die spel.

Chereé en Johan Lategan van die Maningi Barak-boerdery bou die baan op ’n gedeelte van hul plaas, wat nie ver van die dorp is nie.

Chereé en Johan Lategan by die padelbaan wat hopelik teen die einde April voltooi sal wees.

Chereé het skoon slapelose nagte oor die padelbaan, wat Jubilee Padel genoem is. Sy het die kompleks ontwerp en die bouwerk aan die baan beplan, asook die geboue en omgeboude vraghouers wat in moderne kleure en styl uitgevoer is.

“Padel is ’n fantastiese sportsoort waarin vier mense teen mekaar speel. Die baan is veel kleiner as ’n tennisbaan en die bal hop ook anders weens die druk wat verskil. Ek dink dit gaan veral gewild onder jong mense wees in ’n dorp waar daar nie baie te doen is nie. Dit is ’n prettige en baie sosiale sportsoort. Onsself speel dit oral waar daar bane is.”
Chereé Lategan

Padel het in Mexiko ontstaan toe ’n man sy muurbalbaan gebruik het om ’n spel soortgelyk aan tennis te ontwikkel. Die puntestelsel is dieselfde as in tennis, maar die reëls verskil.

Chereé het marknavorsing gedoen deur ’n meningsopname op WhatsApp aan 77 mense te stuur, waarvan net twee gesê het padel sal nie posvat nie. Die positiewe terugvoering het haar vuur aangesteek.

“Ek kan nie wag nie, en is al ongeduldig dat die baan moet oopmaak, hopelik aan die einde van April. Ons het pekanneutbome uitgehaal waar die baan gebou word. Die oppervlak is kunsmatige harde gras en silika-sand word bo-oor gestrooi. Glaspanele sal om die baan staangemaak word.

“Ons bou ook badkamergeriewe. Ek het twee vraghouers in Johannesburg laat ombou. Een sal ’n winkel wees waar mense die balle kan koop en rakette huur, en die ander ’n wegneemkoffiewinkel. Tafeltjies sal uitgesit word waar toeskouers kan sit.

“Ons en ons vriende kan nie wag om te begin speel nie. Mense kan halfuur-, uurlange- of ’n sessie van ’n uur en ’n half op die Playtomic-app bespreek en betaal. Dit kos sowat R400 vir ’n uur wat beteken elke speler betaal R100. Die baan sal sewe dae van die week oop wees.”

’n Padelbaan elders in Suid-Afrika.

Omdat baie mense nie die sportsoort ken nie, beplan hulle om die baan een of twee dae lank oop te stel sodat mense die sportsoort kan leer ken.

“Ek dink dit gaan baie vir die gemeenskap doen. Dit sal ’n plek wees waar hulle saam met vriende sport kan beoefen, ’n koffie geniet en ook na ander wedstryde kyk. Hoewel dit ’n lekker sosiale sportsoort is, kan dit ook kompeterend wees. Een van ons planne is om ’n liga onder die besighede in die omgewing te vestig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article