“If you are in a bad mood go for a walk. If you are still in a bad mood, go for another walk.” – Hippocrates
In Afrikaans klim jy met die verkeerde voet uit die bed, in Engels aan die verkeerde kant van die bed.
Die oorsprong van die Engelse uitdrukking, “word wakker aan die verkeerde kant van die bed”, kom vermoedelik uit antieke Rome.
Die Romeine was baie versigtig om altyd aan die regte kant van die bed op te staan om te verseker dat geluk hulle deur hul dae sou volg.
Wanneer hulle “linkervoet vorentoe” of “aan die verkeerde kant van die bed” opgestaan het, het hulle geglo dat hulle ongelukkig sou wees.
Hm. Ek het ’n goeie verskoning dat ek my enkel verstuit het, so dit is die verkeerde voet om op te trap as jy nog beneweld geslaap is. Omdat die knorrigheid dik in die keel opstoot weens min slaap.
Dan swaai jy om na die anderkant van die bed, wat glo die regte kant is, om met ’n lied in die hart op te staan.
Soos jy swaai, hol die honde ook om die bed se hoeke. Breë glimlagte op die gevrete, afwagting in die oë, ore punt gespits. Die ene liefde. Die tennisbal soos ’n handskoen neergegooi.
Die dag moet met uitbundige oorgawe begin, sodat dit kalm en besadig kan eindig.
Tussenin kan die emosies styg en daal, die dag oorwin word.
Vanaand kan jy aan die regte kant, honde al om die hoeke, inkruip.


