Iemand stuur onlangs vir my ’n dierbare video.
Dit gaan oor kindertjies wat twee-twee afgeneem word, en die volgende vraag word aan altwee gestel: “Wat is, volgens julle, die grootste verskil tussen julle?”
Nie net was dit vir hierdie kleintjies moeilik om hierdie vraag te antwoord nie, sommige het ’n antwoord probeer uitdink.
“Ek hou meer van blaarslaai as sy. Sy hou glad nie van blaarslaai nie,” was die een antwoord.
“My tone is groter as syne,” was ’n ander antwoord.
Die feit dat hulle van ouderdom of ras of geslag of bloot op voorkoms verskil, het glad nie by hulle opgekom nie.
Nie omdat hulle moedswillig was nie, bloot omdat hulle nie daardie verskille, soos volwassenes, raakgesien het nie.
Dit het geen verskil by hulle gemaak nie.
Hulle is kinders.
Hulle is maatjies.
Hulle is mense.
En dit is vir hulle genoeg.
Vir ’n oomblik het ek gewonder hoe ongelooflik die wêreld daar sou uitsien as die gemiddelde mens nie in verskille nie, maar in ooreenkomste met hul kollegas, bure en mense in die algemeen, kon vaskyk.
Veronderstel werknemers sou vaskyk in die gemeenskaplike doel om hul werkgewer se belange op die hart te dra en te doen wat die beste vir die besigheid is – hoeveel makliker sou dit nie wees om saam te werk nie.
Dalk moet ons daarop konsentreer om meer ooreenkomste en minder verskille in mekaar raak te sien.


