Die polisie het Donderdag 8 Desember by Greenside, Kimberley, op versoek van die Sol Plaatje-munisipaliteit ingegryp waar inwoners se lewe reeds drie weke lank deur onwettige diamantdelwers “vergal” word.
Die onwettige myners wat al langs Molyneauxweg en Dixonplek grawe en reeds ’n vloedwatersloot en varswaterpypleiding beskadig het, is aangesê om die gebied teen Vrydag te verlaat. Na bewering het van die delwers ook al prospekteergate op die Ekapa-myngebied aan die oorkant van die woonbuurt gegrawe.
Een van die inwoners sê hulle voel bedreig en is al deur die onwettige myners gedreig.
“Ons eens vreedsame lewe is daarmee heen. Ons het ’n petisie opgestel en sou Woensdag ’n optog gehou het. Die polisie het ons egter gevra om vir hul optrede te wag, wat Donderdag gebeur het. Die delwers moet Vrydag weg wees.”
In die petisie vra hulle die munispaliteit, departement van minerale hulpbronne, polisie, en departement van binnelandse sake om die onwettige mynbedrywighede te staak en te ondersoek.
“Hier is ander betrokkenes soos diamantkopers en werkgewers, nie net delwers nie. Etlike luukse voertuie en bakkies ry gereeld hier rond en praat met die delwers. Dit lyk of mense in die betrokke voertuie hul werknemers aflaai; werkers wat werksure volg, middagetes neem en teen uitskeityd met hul toerusting en gruis opgelaai word. Die gruis word elders verwerk. Ek verneem mense met bakkies word selfs betaal om die gruis te vervoer. Die delwers het oral, selfs langs die treinspoor, huise opgeslaan.
“Geen wette word gevolg nie. Hulle delf op munisipale grond, oortree elke mynbou-, beroepsveiligheid- en immigrasiewetgewing. In die jare wat ek hier bly, het ek nog nooit bedreig gevoel nie. Ons lewe word vergal. Sodra die diamante op is, gaan hulle kabels en koperpype van ons huise begin afsteel soos wat in Cassandra gebeur.”
Die waterpypleiding is stukkend gekap en die delwers gooi hul rommel in die vloedwatersloot.
“Ons woonbuurt wat laagliggend is, word met elke groot wolkbreuk oorstroom. Indien daar nou ’n reënstorm kom, sal nog meer huise onder water wees as vorige kere.”
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê hulle het klagtes ontvang oor die delwers wat op munisipale eiendom grawe.
“Ons eie sekuriteitspersoneel het nadat klagtes verlede week ontvang is, die delwers aangesê om die gebied te verlaat, wat hulle nie gedoen het nie. Ons het die terrein weer besoek en die polisie ontbied. Die delwers vernietig ons infrastruktuur en benadeel die gemeenskap. Hulle het geen reg om in woonbuurte te delf nie.”
Die polisie het nie op navrae reageer nie.





