Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley spog dat hy en verskillende beleggers binne die volgende jare dermiljoene rande se beleggings in nuwe eiendomsontwikkelingsprojekte gaan inbring en daardeur werk verskaf en die plaaslike ekonomie stu.
Só sê Kagisho Sonyoni, uitvoerende burgemeester, wat onlangs die nuus op ’n konferensie bekend gemaak het.
Die stad-en-streeksbeplanningsafdeling het nou vier bou-inspekteurs nadat drie nuwes aangestel is. Bouplanne word baie vinniger goedgekeur en die wagtydperk vir goedkeuring is verminder na tussen agt en tien weke. Die ruimtelikebeplanningskomitee sit gereeld om planne goed te keur en die agterstand wat in die inperkingstydperk ontstaan het, is uitgewis.
Uitbreiding in Oppenheimer-tuin begin
Van die nuutste ontwikkelings wat inwoners reeds sien, is ’n eiendomsgroep se studentekoshuiskompleks van R196 miljoen wat in Lawsonstraat gebou word. Die hersonering en bouplanne is lankal goedgekeur en die terrein word voorberei.
Op sy beurt is die Sol Plaatje-universiteit (SPU) steeds besig met uitbreiding op die suidelike en sentrale kampus. Die uitbreiding van R150 miljoen van die noordelike kampus in die Oppenheimer-tuin het pas begin.
Die voltooide DSC-gebouekompleks in Memorialrylaan het R110 miljoen behels.
Inwoners sien reeds hoe die nuwe Christian Revival Church (CRC) langs die N12 aan die buitewyke gestalte kry. Benewens die kerkgebou, word 109 erwe voorberei waarop huise gebou gaan word. Die waarde van die ontwikkeling is sowat R100 miljoen.
Op ’n gedeelte van Alexanderfontein naby Greenpoint en Ronaldsvlei wil die ontwikkelaar erwe vir woonhuise, lae-inkomstebehuising, ’n hotel en konferensiesaal en kantoorgeboue op 50 ha voorberei. Die ontwikkeling is ’n belegging van R120 miljoen.
Intussen gaan die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) in samewerking met die munisipaliteit en nasionale en provinsiale departemente, asook die private sektor, ’n moderne kleutersorgsentrum van R5 miljoen in Greenpoint oprig.
Oorkant die Mediclinic Gariep in El Toro Park is huise reeds gebou en erwe vir ’n nuwe woongebied voorberei.
Die ontwikkeling van 106 erwe beloop R60 miljoen. Benewens woonhuise is daar ’n gastehuis en kantoorgebou.
In Floors gaan 1 056 erwe uitgesit en vir laekostebehuising gesoneer word. Die beleggings sal sowat R300 miljoen in die stad bring.
Bouwerk by die Hullstraat-gebouekompleks vir gemengde behuising is reeds aan die gang, en behels ’n belegging van R350 miljoen.
Onaansienlike mynhope maak plek vir behuising
Die grootste belegging is Kimberley Rehabilitation and Development se R6 miljard-projek om die stad se aansig te verbeter deur onaansienlike mynhope in nuwe woonbuurte te omskep.
Volgens die burgemeester sal dit die ekonomie stu, werksgeleenthede skep en die stad soomloos met ander woonbuurte verbind. Dit is voorheen deur mynhope (onder meer Colville en St. Augustine) en aangrensende stukke veld, waarin rommel gestrooi word, onderbreek. Sowat 11 000 huise kan hierdeur opgerig word.
Nog ’n voorstel is om ’n nuwe gebou op die parkeerterrein in Roperstraat agter die landdroshof te bou waarin die regering verskillende dienste aan burgers bied.
Die gebied sal verfraai en opgeknap word, met die oogmerk om die stadskern nuwe lewe te gee. Die projek behels ’n belegging van R528 miljoen.
Die nasionale en provinsiale regering, in samewerking met behuisingsagentskappe en die munisipaliteit, beplan om sowat 4 000 erwe in Carters Glen te ontwikkel, soortgelyk aan ontwikkelings in Leratopark, in ’n poging om die stedelike verdeling wat uit apartheid gespruit het te oorkom. Haalbaarheidstudies word gedoen.
Nog 58 erwe vir middelinkomste-gesinne word in Carters Glen op munisipale eiendom uitgesit, wat R34 miljoen sal inbring.
Daarbenewens sal nog 409 erwe elders in Phomolong, Moghulpark, South Ridge, Herlear, Roodepan en Retsewelele aan middelinkomste-huisgesinne verkoop word, met die oogmerk om hierdeur sowat R53 miljoen te in.





