’n Aantal mense in minstens drie provinsies is op ’n hakkejag na ’n man van die Kathu- en Kuruman-omgewing wat hulle glo met sowat R1 miljoen in onbetaalde lenings en sonkragstelsels wat nooit in werking gestel is nie, ingeloop het.
Die man, Phillip “Klippies” Krüger/Dieckmann wat e-Kalahari bedryf, ontken al die bewerings teen hom. Op 13 April het ’n nuwe sonkragonderneming, Sica, op Facebook verskyn waarin dieselfde selfoonnommer wat Krüger gebruik as kontaknommer geplaas is. Sica adverteer dat sy dienste in Nelspruit, Upington, Sandton, Kaapstad, Lichtenburg, Durban, Pietermaritzburg, Polokwane, Kimberley en Bloemfontein beskikbaar is.
Die polisie het bevestig hulle ondersoek verskeie sake teen hom, terwyl Mike Bolhuis ook 15 sake teen die man ondersoek.
Van die klaers is weduwees en pensioenarisse. Een van hulle sê sy moes weens ’n geldtekort weer begin werk om te oorleef.
NoordkaapBulletin verneem die klaers het oor die afgelope vyf jaar na bewering tussen hulle sowat R1 167 045 verloor.
Die klaers beweer Krüger “kruip glo op ’n plaas buite Kuruman” vir hulle, die polisie en balju’s weg en dat hy hulle op sy beurt met regstappe dreig.
Hulle eis dat die polisie die verskeie sake teen hom sentraliseer en hom spoedig in hegtenis neem en aankla.
‘Hy is weg met my deposito’
Lleola Vorster van Bloemfontein sê die man moet “boet vir sy dade”.
“Ek het in Maart 2022 sowat R168 000 aan hom oorbetaal. Geen installering is gedoen nie en hy het my talle oproepe ignoreer toe niks installeer word nie. Ek het aanvanklik net ’n siviele saak teen hom aanhangig gemaak, maar die balju en prokureur kry hom nêrens om ’n dagvaarding op hom te beteken nie. Ek het nou ’n klag by die polisie ingedien. Ons is nou groepie slagoffers wat inligting deel en ander mense teen hom waarsku.
“Ek is ’n weduwee wat later dalk nie meer elektrisiteit kan bekostig nie. Ek bly op ’n kleinhoewe waar ons benewens beurtkrag ook gereelde kragonderbrekings kry. Dit het eenkeer 47 uur geduur.”
Aanvanklik was sy skepties oor die groot deposito wat hy eis, “maar goeie aanlynresensies oor sy werk het my oortuig.”
Nadat sy die geld betaal het, het hy telkens beloof dat die toerusting afgelewer sou word.
“Hoe meer ek hom gebel het, hoe meer was die verskonings. Hy het my later op sosiale media geblok en antwoord nie my oproepe nie. Ek het hom eenkeer van my dogter se foon gebel, toe antwoord hy. Ek het gevra of hy ’n Christen is. Ek het gesê ek hoop nie dat sy kinders soos wat die Bybel sê onder sy sondes moet ly nie. Toe skryf sy prokureur ’n brief aan myne waarin hulle beweer ek dreig hulle.”
Nog ’n klaer, Steyn de Klerk, sê hy het Krüger vertrou.
“Hy is getroud met iemand saam met wie ek 12 jaar op skool was. Daarom het ek hom vertrou. Ek en die maatskappy waarvoor ek werk het saam R187 000 vir die stelsel betaal. Hy het net verdwyn en nooit ’n installasie gedoen nie.”
De Klerk het vir Bolhuis gevra om ondersoek te doen.
Hilda Brits se verloofde, Peet Viljoen, wat R500 000 aan Krüger uit sy skeidingspakket van die myn in Kathu geleen het, het twee jaar gelede sy eie lewe geneem. Brits sê Viljoen het in sy briefie gesê hy het alles verloor, hy sien nie meer kans vir die lewe nie.
“Nou moet ek op byna 60 jaar ’n bewaarskool begin om kop bo water te hou. Daar was niks in Peet se boedel oor nie.”
Volgens haar was Krüger en sy vrou “soos kinders in ons huis. Peet het sy laaste geld net voor hul troue aan hom gegee.”
Pieter en Mariëtte Benade het Krüger R135 000 betaal en toe hy verdwyn, nog R100 000 aan regskostes bestee.
“Toe ek hom bel en vra wanneer die stelsel installeer word, was sy verskoning dat hy pas ’n vasektomie gehad het. Nog ’n verskoning was dat een van die steke los geraak het, en hy ongesteld is.
“Ons het hom insolvent laat verklaar, maar die balju kry hom nie in die hande nie, want hy moet voor ’n landdros verskyn vir die ondervraging. Dit lyk of hy net sy foon aansit, boodskappe kyk, besigheid doen, en dan skakel hy dit weer af.”
Riaan Noëth wat naby Niekerkshoop boer het jare lank kragopwekkers gebruik tot die laaste een gebreek het.
“Ek het op sonkrag besluit en baie huiswerk aanlyn gedoen. Phillip kon genoeg panele en ’n wisselrigter bied. Hy is weg met my deposito en het toe alle kommunikasie met my geblok. Vandag sit ek platsak en sonder Eskom-krag- of ’n sonkragstelsel. Hy het ’n saak van naamskending teen my aanhangig gemaak oor vrae wat ek oor sy werkswyse op sosiale media geplaas het. Niks het van sy dreigemente gekom nie. Hoewel die plaaslike polisie ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming het, is niks daaraan gedoen nie.”
Klagtes teen diegene wat hom beswadder
NoordKaapBulletin is bewus van klagtes teen Krüger wat by polisiekantore in Kathu, Lime Acres, Postmasburg, Niekerkshoop, Windsorton, Trompsburg, Bloemfontein en Pretoria ingedien is.
Krüger, wat homself as ’n netwerksekuriteitsingenieur beskryf, ontken al die aantygings teen hom.
“Ek doen sedert 2013 al besigheid en het honderde tevrede kliënte. Inteendeel, ek is juis op pad na die Vrystaat waar ek onder meer nog ’n installasie by ’n tevrede kliënt gaan doen. Ek het selfs op kere wat die toerusting foutief was, die koste uit my eie sak betaal.
“Ek het die bewyse dat ek die lening aan Viljoen terugbetaal het. Die ander kliënte was ontevrede om lank te wag vir die toerusting en die installasie. Hulle het die kontrakte kanselleer en was bereid om afstand van die deposito te doen.
“Vir diegene wat hul geld teruggeëis het, het ek bewyse gestuur dat die terugbetalingsproses aan die gang is. My prokureur hanteer dit. Ek het vir een kliënt die bewys gestuur dat die toerusting deur die koerier by die pakhuis opgelaai is, dus kommunikeer ek gereeld met kliënte.”
Hy sê hy het klagtes teen die mense ingedien wat hom op Facebook en elders “beswadder” het.
“Die beledigings teenoor my dra gevolge. Ons doen nou stappe en gaan hulle vir honderde duisende rande of miljoene tot in die hooggeregshof weens crimen injuria en verlies aan inkomste dagvaar. Sommige van hulle het direkte dreigemente teenoor my en my gesin gemaak en ons adresse op sosiale media publiseer. Van my honde is ook vergiftig.”
Volgens Krüger het twee polisielede van Lime Acres en Postmasburg hom besoek.
“Hulle sou my laat weet wanneer ek verklarings moet aflê. Ek verstaan die strafregsake is intussen uitgegooi of die klaers is aangesê om my siviel te vervolg. Die ondersoeker van Mike Bolhuis se maatskappy het my ook nie weer gekontak nie. As enige iemand ’n terugbetaling soek, kan hulle my prokureur kontak.”
Hy wou nie die prokureur se naam verskaf nie.
Hy ontken dat hy wegkruip.
“Ek help iemand met plaaswerk op ’n plaas buite Upington. Ek is as Krüger gebore, maar my van is as kind na Dieckmann verander. Ek is besig om dit na Krüger terug te verander.”
Kriptogeldeenhede nuwe aanbieding
Mike Bolhuis wat van die sake teen Krüger ondersoek, sê die afgelope twee jaar het bedrog met sonkragstelsels met rasse skrede toegeneem.
“Ons het al 15 sake teen Krüger/Dieckmann (31) ingeneem, maar ek glo daar is baie meer. Hy vat die geld en lewer nie die diens nie.
“Dis maklik vir glyjakkalse om aanloklike pryse aan te bied met die belofte om die probleem met beurtkrag vinnig op te los. Die advertensies is vol aanlynfoto’s van sonkragstelsels wat waarskynlik nie sy eie is nie. Hy is nasionaal met sy bedrywighede besig. Dit klink te goed om waar te wees.
“ ‘n Eerbare sakeman moet ’n ordentlike infrastruktuur en stelsels hê om ontevrede kliënte se geld terug te betaal, of die diens lewer. By gebreke daaraan, kan mense hul geld wetlik terugeis. Hy kan nie ’n deposito vat as hy nie voorraad geredelik beskikbaar het nie. Die geld van die kliënte mag net vir die betrokke diens of produk gebruik word, nie om sy leefstyl te finansier nie. Anders is dit wanvoorstelling, bedrog en diefstal.
“Ons het nuwe inligting dat Krüger/Dieckmann nou kripto-geldeenhede verkoop. Die selfoon nommer wat hy gebruik is 072-985-4727. Enige klagtes kan na ons gestuur word.
“Ons waarsku mense om eers deeglike ondersoek te doen voordat hulle enige aanlyn verkope of aankope doen. Ons het ’n eenheid Project Buying and Selling begin waar mense eers kan uitvind of ’n voornemende verskaffer of koper eerbaar is of nie,” sê Bolhuis.
Lt kol. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek verskeie aanklagte van bedrog.
“Die ondersoek duur voort, maar geen inhegtenisneming is al gemaak nie. Enigeen met inligting moet ao. Benny Fourie by 082-495-1070 bel of kan anoniem SMS’e na 32211 stuur of die MySAPS app gebruik. Inligting sal vertroulik hanteer word.”





