The most beautiful things in life are not things. They’re people and places, memories and pictures. They’re feelings and moments and smiles and laughter. – Pinterest
Die herinneringe aan my ouma se huis sal ek ewig koester.
Dieselfde geld vir my ouerhuis en sommige tannies se plaas- en dorpshuis waar ons neefs en niggies in samesyn gekuier het.
Die huise waar ons liefde en lewe leer ken het.
Ouma se huis was ’n doolhof van vertrekke. Houtvloere, dik gordyne, stewige houtmeubels en ’n rooi sinkdak. Die rooi stoep met die trappies en die kantmuurtjies wat ons soos glyplanke gebruik het.
Die stokrose in haar tuin wat ons laat jeuk het. Die yslike erf met elke vrugteboom onder die son waar jy in die koelte kon verdwaal. Wanneer jy die huis inloop, was die sitkamer aan die regterkant. Die mure deur Italiaanse krygsgevangenes beskilder. Natuurtonele wat later saam met die huis gesloop is.
Aan die oorkant: die twee kamers met groot hangkaste en sagte beddens. Die groot eetkamer in die hart van die huis, portrette aan die portretreelings.
In die hoek ’n geheime kamer.
My ouma se kamer met sy gehelde blokkieskombers bo-op ’n hoë bed. Die “canned fruit” bottel met haar water, die kas wat my oorlede oupa gebou het.
Die kombuis met sy enorme tafel waar hul kinders daagliks tuisgebakte brood gekry het. Waar ouma altyd kos vir almal van haar koolstoof kon bedien.
’n Wens om nog net een keer daar te kuier.



