Oupa Mahomane

Foto: Charné Kemp

Samson Sam Mbokane (links) en Jabulani Zuma.

In nog ’n dramatiese wending in die Piet Els-moordverhoor verlede week in die hooggeregshof in Kimberley het ’n beskuldigde klagte ingedien teen twee medebeskuldigdes, waaronder ’n seun van oudpres. Jacob Zuma en hul ondersteuners, wat hom na bewering gedreig het.

Dit kom nadat die polisie se taktiesereaksie-eenheid gedurende die hofsittings die hofingange en hofsaal bewaak het te midde van intelligensie dat ’n beskuldigde wil ontsnap. Die aktetas van ’n regsverteenwoordiger met sy rekenaar en hofaantekeninge is boonop uit sy huis gesteel.

Die verhoor is Vrydagoggend (25/11) summier tot 6 Februarie uitgestel nadat die betrokke regsverteenwoordi­ger, Renier Pieterse, homself onttrek het. Hy het drie van die beskuldigdes verteenwoordig.

Drie nuwe regsverteenwoordigers moet nou aangestel word.

Die aangeklaagdes, Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37) van Lesotho; Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), asook Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga; en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal, staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest (toe 68), is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer met ’n strykyster gemartel en aange­rand. Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.

Die kruisondervraging van Mbokane sou Vrydag in die hooggereghof in Kimberley voortgaan. Pieterse, sy regsverteenwoordiger, het egter beweer dat Zuma en Mahomane (wat albei in aanhouding is) en hul ondersteuners in die galery vir Mbokane gedreig het. Mbokane was selfs te bang om tussen hulle in die beskuldigdebank te sit.

Die beweerde voorval het glo gebeur nadat adv. Hannes Cloete, aanklaer, Donderdag vir Mbokane in die getuiebank begin kruisondervra het. Mbokane, wat daarvan beskuldig is dat hy sy medebeskuldigdes beskerm, het begin kleitrap. Die kruisondervraging, wat Vrydag sou voortgaan, is toe weens die bewerings van afdreigings gestaak.

Pietserse het erken hy is in ’n etiese verknorsing omdat hy verskeie kliënte verteenwoordig waarvan een die ander afdreig. Sy kliënte se weergawes verskil boonop van mekaar.

Pieterse het Ndlala, Mahomane en Mbokane verteenwoordig.

Regter Lawrence Lever het voorts bevind dit is ’n kwelling dat Mbokane steeds onder kruisondervraging is en met niemand oor sy getuienis mag praat nie. Tog moet sy nuwe regsverteenwoordiger met hom konsulteer. Die aanklaer en ander regsverteenwoordigers gaan navorsing doen oor wat in dié betrokke geval die vereiste optrede is.

Die regter het gelas dat Regshulp Suid-Afrika afsonderlike regsverteen­woordigers vir die drie beskuldigdes aanstel, hoewel Ndlala en Mahomane reeds getuig en hul sake gesluit het.

Die nuwe regsverteenwoordigers moet tyd gegun word om hulself van getuienis vergewis. Polisielede wat nie by die verhoor betrokke is nie, moet die klagte van afdreiging ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article