’n Noord-Kaapse polisielid is moedeloos omdat die ongevallekommissaris reeds jare sloer om ’n eis af te handel vir permanente beserings wat hy 12 jaar gelede in ’n motorongeluk opgedoen het toe hy aan diens was.
Paul Schoeman sê hy wil ’n gehaltelewe lei en na sy gesondheid omsien, maar kan dit nie doen voordat die eis afgehandel en op rekord geplaas is nie. Hy was alleen in die voertuig toe die ongeluk op 4 Junie 2011 naby Kuruman gebeur het.
Hy was meer as twee maande in ’n koma in ’n hospitaal in Bloemfontein en het ernstige permanente kop-, rug-, interne en beenbeserings opgedoen. Sy milt en galblaas is ook verwyder.
Die polisie het al die dokumente ingedien soos deur die wet vereis, wat aan die departement van arbeid gestuur is.
“Die ongevallekommissaris handel nie die eis af nie, en kommunikeer glad nie meer nie. Verskillende LegalWise-prokureurs het my bygestaan om die eis af te handel, maar die kommissaris het sedert Februarie 2018 nie op ons versoeke reageer nie. Aanvanklik het hulle my eis afgekeur omdat ’n sekere dr. Van Zyl gemeen het ek makeer niks nie. Daar was nie ’n dr. Van Zyl by my behandeling betrokke nie.
“Ek het appelleer en is versoek om ’n vergadering in 2017 in Kimberley by te woon. ’n Dokter van Kuruman, wat sy spreekkamer vir die dag moes sluit en inkomste verloor om te getuig, asook die prokureur, was saam. Ek het hul reis- en verblyfkoste betaal.
“Die vergadering het twee keer nie plaasgevind nie – een maal het die verteenwoordiger van die Vergoedingsfonds nie opgedaag nie.
“Op 12 Februarie 2018 het die paneel by die ongevallekommissaris bevind my beserings is werklik en permanent, en ’n neurologiese ondersoek is versoek. Die kommissaris het gesê hulle sal die koste van die dokter van Kuruman en die mediese toetse betaal, wat nie gebeur het nie.
“Die neuroloog en breinskandering se koste is meer as R5 000, wat van my geëis word.”
Schoeman se prokureurs het sedert Februarie 2018 talle e-posse gestuur waarop die ongevallekommissaris nie reageer het nie. Hlonitshwa Mpaka, woordvoerder vir die ongevallekommissaris, het onderneem om so spoedig moontlik op ’n navraag te reageer.



