’n Onderwyser van die Hoërskool Daniëlskuil en ’n skeidsregter van die Griekwaland-Wes-skeidsregtersvereniging (GWSV) is Saterdag (28/05) tydens die skool se o.15-rugbywedstryd teen die Hoërskool Kathu aangerand.

Christo Kemp, onderwyser, is uit die hospitaal ontslaan en het Maandag (30/05) glo berading weens die voorval ontvang. Hy is deur die Van Druten-skeidsregtersvereniging aangestel vir die wedstryd.

Fires van Vuuren, GWSV-skeidsregter, is ook aangerand toe hy Kemp wou help. Hy het Maandag glo met sy regspan oor die voorval gekonsulteer. Hy wil ’n strafregtelike klag by die polisie indien en berading kry.

Sydney Stander, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, sê die departement het ’n verslag oor die voorval van die skool ontvang. Die departement wag op nog verslae oor die optrede van die skool teen twee van sy leerlinge wat ook by die aanranding betrokke was. – Anena Burger

  • Vyf mense is sedert Vrydag (27/05) in ongelukke op die N12-pad tussen Kimberley en Warrenton dood. Sondag, omstreeks 00:00, het die bestuurder van ’n voertuig met 11 insittendes, almal mans, vermoedelik vir beeste in die pad uitgeswaai en beheer oor die voertuig verloor. Van die mans is uitgeslinger. Nooddienste-personeel het die voertuig op sy neus in ’n watersloot langs die pad aangetref. Drie mans is op die toneel dood verklaar. Die ander is ernstig beseer en is per ambulans hospitaal toe geneem, van wie vyf in ’n kritieke toestand was, sê Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ’n verklaring. In ’n ander ongeluk Vrydag omstreeks 18:30 is twee vroue in ’n ongeluk sowat 40 km buite Kimberley in ’n botsing reg van voor dood. Die ongeluk het na bewering gebeur toe ’n motor glo verkeer probeer verbysteek het en teen die aankomende voertuig gebots het.
  • Twee skoolbusse is Maandagoggend (30/05) erg beskadig en 36 skoolkinders van die Kromellenboog-AgriFocus-gekombineerde landbouskool by Christiana beseer. “Die agterste bus se koppelaar het glo gebreek, wat veroorsaak het dat die bestuurder nie kon stop nie,” sê Theo Gerber, ’n DA-raadslid van die dorp. Volgens Noordwes se departement van onderwys was die twee busse besig om te draai toe die botsing plaasgevind het. – Alet van der Walt

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article