Hulle besef wat die unieke geografiese en demografiese uitdagings van die Noord-Kaap is en het planne om probleme op te los. Só het Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, en haar adjunk op 15 Oktober tydens hul landswye Leer-en-luister-toer in Kimberley gesê.
Die geldtoedeling wat die provinsiale departement kry, is onvoldoende vir uitdagings soos lang afstande en reistye tussen distrikte. Gwarube sal poog om dié las te verlig, maar die hele staatsdiens word deur besnoeiings in die gesig gestaar.
“Die Noord-Kaap is uniek vanweë die Square Kilometre Array- (SKA) teleskoop, die grootste radioteleskoop ter wêreld, buite Carnarvon, asook ander wetenskaplike ontwikkelings.
“Dit is uiters belangrik dat meer leerlinge wiskunde en fisiese wetenskap as vak op skool neem en dit slaag. Die provinsie het proporsioneel teenoor ander provinsies die minste leerlinge wat dié vakke neem en dit slaag. Ons sal kyk hoe ons meer onderwysers kan oplei om die vakke aan te bied.
“Ek en my medevlieënier, dr. Makgabo Mhaule, adjunkminister, moet ingrypings landwyd doen om onderwysuitkomste te verbeter. Die oogmerk van die toer is om verhoudings met provinsies te versterk en die nasionale seniorsertifikaat- (NSS) eksamenslaagsyfer te verbeter.”
Hoewel die nasionale departement beleide bepaal en oorhoofs hulp aanbied, gaan 80% van die onderwysbegroting na die provinsies. Daarom wil sy weet wat hul geldelike uitdagings en behoeftes is.
“Die begrotingbesnoeiings dwing ons om skeppend te dink, maar geen onderwysers gaan afgedank word nie. Met sewe uit tien leerlinge wat werkloos is nadat hulle skool verlaat, sit ons met ’n krisis. Ons stelsel moet leerlinge sedert grondslagonderwys met vaardighede toerus om in diens geneem te kan word.”
Volgens haar sal hulle ook begrotings hersien wat onvoldoende is as een provinsie byvoorbeeld veel meer leerlinge kry as verwag vanweë verhuising.
“Ons moet die vraag en aanbod in die stelsel ontleed om oorbevolking te verlig. Gesprekke sal met die tesourie gevoer word. Ons sal nie toelaat dat departemente onbestede geld aan die tesourie teruggee nie.”
Mhaule sê ’n vergrote lughawe word ook vir die distrik beplan, en verbeterde spoorlynverbindings.
“Staatsdepartemente het saamgespan om ’n distriksontwikkelingsplan saam te stel wat gebruik word om alle nuwe ontwikkelings sinvol te integreer.”
Die provinsie se matrikulante is gereed vir die komende eksamens, sê Abraham Vosloo, LUR, en dat heelwat ingrypings gedoen is.
Vosloo se fokus is ook dat meer leerlinge wiskunde en fisiese wetenskap as vak neem en dit slaag, “juis omdat die provinsie ’n belangrike ekonomiese kernpunt word met die huidige en beplande hernubare energieprojekte en spesiale ekonomiese sones”.





