Voortdurende water- en rioollekke, en ’n algemene gebrek aan behoorlike instandhouding en herstel van pad-oppervlakke, benadeel al hoe meer nasionale en deurgangsroetes in en om die hoofstad van die Noord-Kaap.
“Miljoene is reeds tevergeefs bestee, terwyl voortdurend gesê word daar is nie geld nie. Soveel vermorsing en korrupsie is hierin gebou,” sê Cilliers Brink, LP en DA- nasionale woordvoerder.
Op die vooraand van nog ’n vierdag-wateronderbreking, wat van Donderdag (12/05) tot Sondag (15/05) vir Kimberley beplan word om stukkende watertoevoerpype te herstel – wat verlede jaar ook herstel is – het die DA ’n oorsigbesoek aan twee punte gebring waar water- en rioollekke die struktuur van paaie bedreig.
Lekkende rioolpype langs die N12-pad kan die stabiliteit van ’n deel van die nasionale pad benadeel, sê die party; net soos die riooldam langs die R31-roete tot die sluiting van ’n deel van die pad gelei het.
Vir ’n geruime tyd reeds vloei riool vrylik in die omgewing van die Elizabeth Conradie-skool langs die N12.
Weens dié lekplekke is ’n deel van die sportterrein van die skool reeds afgesper. Die riool oorstroom ’n pad in die Southridge-woonbuurt en druk onderdeur die N12-pad in stormwaterpype in die rigting van die Minerva-aftreeoord.
Tydens die oorsigbesoek Dinsdag (10/05) het Brink gesê Kimberley oorstroom weens die Sol Plaatje-munisipaliteit se onverskilligheid teenoor die onderhoud van infrastruktuur.
Brink sê die poging van die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke om die padoppervlak van die R31-roete in die omgewing van Platfontein met 1,5 m te lig, behels nog miljoene wat tevergeefs bestee word.
Weens voortdurende vloei uit lekplekke styg die oppervlak van die dam glo daagliks met 40 mm.
Intussen, terwyl sakelui en aktiviste dreig om veral die padonderhoud by die Sol Plaatje-munisipaliteit oor te neem, het ’n inwoner verlede week foto’s by ’n diep slaggat in Landbouweg, waar ’n ongeluk gebeur het, vir versekeringsdoeleindes geneem nadat sy motor glo hier afgeskryf is.
Aristotle- en Landbouweg, wat deur heelwat motoriste en vragmotorbestuurders gebruik word, is vol slaggate en lekkende water.
In Aristotleweg stroom water uit lekkende pype oor die pad, wat slaggate laat ontstaan wat onsigbaar vir motoriste is.
Tumelo Mosikare, bestuurder van die Sol Plaatje Belastingbetalersunie (Sopu), sê die munisipaliteit herstel die paaie net tydelik, en nuwe slaggate vorm aanhoudend.
“Hulle moet die dienste van ingenieurs bekom en die paaie oorbou. As Sopu die onderhoud oorneem, kan ons die herstelwerk ordentlik doen.”
Sharon Steyn, uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), sê hulle wil die padonderhoud oorneem.
“Dit is asof die stadsraad en amptenare nie besef die hoofstad is erg verwaarloos nie. Die burgemeester moet hom vir die toestand van Kimberley skaam. Die minagting waarmee ons stad en sy infrastruktuur behandel word, is verstommend.”
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê hulle het aanvanklik nie besef Landbouweg behoort aan die munisipaliteit, en nie aan die departement van paaie en openbare werke nie.
Die foutiewe klep wat vermoedelik die watermassa in Aristotleweg veroorsaak, sal glo herstel word.
- Besoek die Facebook-blad NoordkaapBulletin vir skakels na die volledige stories.





