Ouers word voortdurend gebombardeer met menings oor hoe om kinders te dissiplineer, en beloning en straf word as metodes hierin aangedui.
Die metodes waarin beloning en straf beklemtoon word, is dalk nie die doeltreffendste metodes nie.
Heidi Malan van Parent Educational Training (P.E.T.) en ’n medewerker van Afrikaans.com, gee die volgende riglyne:
Dissipline: ’n Manier om jou invloed uit te oefen
Kinders het ’n natuurlike geneigdheid om grense te toets, lawaaierig te wees, te mors en om te krap. Dit is maklik om hierdie gedrag persoonlik op te neem en uit frustrasie op te tree. Dit lei egter tot ’n magstryd wat die ouer-kindverhouding kan skaad.
Deur dissipline as invloed, eerder as beheer te herdefinieer, kan ’n gesonder dinamika aangewakker word. Invloed behels om eie ervaring en wysheid in te span om kinders te lei, eerder as om ons wil op hulle af te dwing.
Stappe vir doeltreffende dissipline
Erken gedrag as kommunikasie: Kinders se gedrag weerspieël dikwels hul emosies of onbevredigde behoeftes. Deur gedrag hieraan te meet, kan die onderliggende boodskappe beter verstaan word.
Identifiseer wie se probleem dit is: Indien die kind die een met die probleem is, is dit ouers se rol om te luister en te verstaan. As die ouer die een met die probleem is, moet die gevoel eerlik kommunikeer word sonder om die kind te verwyt.
Luister met begrip: Om te luister om te begryp, beteken nie dat jy saamstem nie. Dit beteken dat jy die kind se perspektief en gevoelens erken. Hierdie bevestiging help hulle om veilig te voel en dat jy hulle verstaan, wat noodsaaklik vir emosionele ontwikkeling is.
Praktiese toepassing
Gestel jou dat jou kind ’n woedeaanval beleef omdat hulle nie ’n sekere speelding mag kry nie. In plaas daarvan om dadelik “nee” te sê of in te gee, neem ’n oomblik om die emosie agter die gedrag te verstaan. Voel hulle gefrustreerd of voel hulle dat hulle nie raakgesien word nie?
Deur hul gevoelens te erken: “Ek sien jy is ontsteld, want jy wou bitter graag daardie speelding gehad het”, skep jy ’n ruimte waarin hulle voel hulle word gehoor. Hierdie benadering kan spanning ontlont en ’n geleentheid skep om tot ’n vergelyk te kom en ’n oplossing te vind wat vir albei partye aanvaarbaar is.
Samewerkende verhouding
Wanneer ons dissipline benader as ’n manier om invloed uit te oefen, verskuif ons van ’n wen-verloor dinamika na ’n samewerkende verhouding. Dit help kinders om probleemoplossingsvaardighede, emosionele intelligensie, en ’n gevoel van sekuriteit, te ontwikkel.
Deur dissipline te herdefinieer, skep ons ’n koesterende omgewing waarbinne kinders kan gedy.
Dissipline beteken nie beheer nie, maar om kinders deur optrede en kommunikasie te lei en te beïnvloed.
Deur te luister en te verstaan, kan ’n positiewe en ondersteunende verhouding gekweek word om kinders te help om emosioneel gesonde, sterk en veerkragtige individue te word.
Lees die volledige artikel op Afrikaans.com: Dink anders oor dissipline: ’n Nuwe benadering tot ouerskap.
– Afrikaans.com




