By enkele van die produkte wat die APD-Frances Baard-distrik ná geldinsameling met Loslitdag 2022 gekoop het, is van links, voor: Miemie Higgs (waarnemende voorsitter van die APD-Frances Baard-distrik)

Te danke aan geld wat verlede jaar met die Loslitdag-veldtog ingesamel is, het die Association of and for Persons with Disabilities (APD) in die Frances Baard-distrik die voorreg gehad om bydraes aan mense met gestremdhede en ook aan organisasies te gee.

Die vereniging kon ’n kontantskenking van R2 500 aan die koshuis van die Elizabeth Conradie-skool (Elcon) doen vir beddegoed vir van die inwoners.

In die koshuis woon nie net Elcon-leerlinge nie, maar ook talle leerlinge van die Retlameleng-skool vir kinders met gestremdhede, waar nie ’n koshuis is nie.

Karen Vorster en Leonie Croucamp, albei voogde by die koshuis, vertel dat ongeveer 60 kinders in die koshuis bly, en dat talle van die ouers nie in staat is om vir hulle beddegoed te koop, of van die huis te bring nie.

Volgens Vorster en Croucamp is beddegoed vir die koshuis altyd in aanvraag; van kussings, komberse tot gordyne.

Die APD kon ook aan die Sally Aucamp-huis vir volwassenes met fisieke gestremdhede doeke vir volwassenes van R1 500 skenk.

Boonop koop die vereniging vir twee behoeftige mense met gestremdhede, wat van battery-aangedrewe rolstoele gebruik maak, nuwe batterye vir die stoele.

Dorothy-Anne Howitson, sekretaresse van die vereniging, sê hulle is dankbaar teenoor die gemeenskap van Kimberley wat die geldinsameling op Loslitdag ondersteun het.

“Ons glo dat hierdie bydraes wat ons kon gee, ’n verskil sal maak.”

Sy sê dit is belangrik dat die publiek sien hoe die geld wat hulle skenk, aangewend word.

Vanjaar se Loslitdag, met die tema “Share a Smile”, vind op Vrydag 1 September plaas.

Skakel 082-926-5754 om Loslitplakkers teen R20 elk te koop. T-hemde en pette is ook beskikbaar en moet teen einde Julie bestel word.

Besoek casualday.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article