“By becoming self-aware, you gain ownership of reality; in becoming real, you become the master of both inner and outer life.” – Deepak Chopra
Stadig, beheers, deurdag. ’n Nuwe leuse, een wat soggens hardop uitgespreek word en deur elke liggaamsvesel moet vibreer tot by elke sinaps.
Gewaarwordinge maak dan meer sin in ’n deurmekaar lewe.
Alles wat begin, eindig nooit. Luister en neem waar, eerder as om self iets te sê.
Deur van jouself bewus te wees, besef jy wat die groter prentjie is. Dit klink soos ’n Nuwejaarsvoorneme, maar niks is toevallig nie. Alles is eintlik gesinchroniseer. Dit besef jy eers wanneer jou geheue, jou bewustheid, jou denkprosesse skielik deur ’n waas omgeef word. Wanneer jy jou juwele verplaas, vergeet om in die spieël te kyk voordat jy die huis verlaat, nie weet waar die kneusplek op jou been vandaan kom nie. Vir jouself skrik, jouself verag.
Deur sinchronisiteit lees jy ’n letterkundige boek waarin die insigte van die Boeddha, ’n groot skrywer, en sy selfbewustheid soveel sin maak. Jy aanvaar in watter stadium jy in jou lewe is.
Die materiële moet afgestroop word. Sit soggens saam op die stoep en luister na die voëlsang. Kyk na die wolke, die son, voel die wind, ruik die plante. Dit is die werklikheid van menswees.
Die besef dat jy in beheer moet wees, nie die rekenaar, die selfoon, of die horlosie nie. Om deurdag te lewe, gee vertroue, selfbewustheid en nederigheid.
Veel meer betekenisvol as die aardse.


