Livingstone Sakata, Noord-Kaapse direkteur van openbare vervolging.

Foto: Charné Kemp

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap is vol vertroue dat hy binnekort nog verdagtes gaan aankla in ondersoeke wat die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PPE) tydens die Covid-19 pandemie vir staatsdepartemente behels.

Só het Livingstone Sakata, die nuwe direkteur van openbare vervolgings in die provinsie wat al ses maande in sy pos is, Donderdag 13 Oktober, gesê.

Dr. Dion Theys, geskorste departementshoof van die departement van gesondheid, en Daniel Gaborone, nog ‘n voormalige amptenaar, is verlede jaar aangekla weens bedrog en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur vir die aankoop van toerusting van R43 miljoen.

Volgens Sakata is daar meer samewerking as ooit tussen verskillende staatsagentskappe soos die polisie, Valke, departemente van binnelandse sake en korrektiewe dienste, die tesourie en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) om misdadigers, wat al slinkser raak, aan te keer.

“Staatsagentskappe kan nie meer in silo’s werk nie. Daar is beter samewerking en ons spaar geld deur byvoorbeeld saam opleidingsessies te hou. Ons volg ‘n geïntegreerde, holistiese benadering.

“Ek kan nie te veel sê oor wie ons gaan aankla in die PPE-sake nie, maar dit gaan gebeur. Intussen kry die voorval waarin Tankiso Tawanyane (34) Saterdagaand in Lethabo Park na bewering verkrag en aan die brand gesteek is, ons volle aandag.”

Adv. Tania Birch, adjunkdirekteur, het gesê die polisie is besig om forensiese bewysstukke in die saak in te samel.

“Die polisie hou ons op hoogte en sal die uitslae dadelik stuur sodra dit bekend is. Indien daar DNS op die liggaam gevind is, kan die forensiese laboratorium dit vergelyk met bekende misdadigers wat reeds in hul databasis is. Indien wel, sal dit verblydend wees omdat geen verdagtes nog in die saak aangekeer is nie. Die dossier word geskandeer en aan my gestuur, sodat ons die ondersoekbeampte in ? aanklaer-geleide ondersoek kan lei.”

Sy sê die DNS-agterstand in ondersoeke word stelselmatig kleiner.

“Ons het die afgelope maande reeds 719-uitslae ontvang, wat beteken vervolgings kan voortgaan of nie, indien daar nie bewyse teen ‘n persoon is nie. Ons het ‘n stelsel waar ek dadelik die uitslae van die laboratorium kan bekyk en na die betrokke aanklaer in die sake stuur.”

Sakata het die versnelde DNS-resultate en ander forensiese uitslae verwelkom.

“Ons kon sake wat gesluit is, weer heropen. ‘n Saakbestuurder is in die eenheid aangestel wat seksuele misdade ondersoek. Die persoon bestudeer dossiere en maak aanbevelings, wat ondersoeke en vervolgings bespoedig. Slagoffers word ook bygestaan en voorberei wanneer hulle moet getuig.”

Misdaad soos gewapende rooftogte en transito-rooftogte styg.

“Ons het ‘n spesiale eenheid wat handelsmisdade ondersoek. Korrupsie versprei soos ‘n aansteeklike siekte in die openbare en private sektor, en onwettige mynbedrywighede, gendergeweld en seksuele misdade neem toe. Kimberley word ook deur bendegeweld geteister wat met dwelmhandel verband hou.”

Adv. Brian Ndloza Mdlalose, hoof van die handelsmisdaad-eenheid, sê hulle ondersoek steeds die saak van die psigiatriese-hospitaal buite Kimberley waarop meer as R2 miljard aan bouwerk bestee is, terwyl die oorspronklike begroting minder as R500 miljoen was.

“Die dood van die hoofverdagte was ‘n groot terugslag. Ons ondersoek die saak in drie dele.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article