Ds. Christo Jonck, predikant in sinodale diens by die NG kerk in Noordkaapland, by ’n gedenkplaat van die kinderhuiskompleks.

Foto: Charné Kemp

Die Kestell-kinderhuis wat ’n paar jaar gelede na Barkly-Wes verskuif is, se gebouekompleks in Kimberley sal teen einde 2024 in ’n nuwe gedaante huisvesting vir studente van die Sol Plaatje-universiteit bied.

Ds. Christo Jonck, predikant in sinodale diens by die NG kerk in Noordkaapland, sê ’n gedeelte van die erf op die hoek van Reservoirweg en Birbecklaan is aan ’n privaatontwikkelaar verkoop.

Ds. Christo Jonck, predikant in sinodale diens by die NG kerk in Noordkaapland, by ’n gedenkplaat van die kinderhuiskompleks.

“Die geld wat geïn is, sal bydra vir die operasionele koste van die Caritas kinder- en jeugsorgsentrum in Barkly-Wes.

“Die kinderhuiskampusse in Kimberley en Daniëlskuil is reeds in 2013-’14 na die Caritas-sentrum in Barkly-Wes gesentreer om operasionele koste te spaar.

“Die amalgamasie het beteken dat ons een bestuurder, in plaas van drie nodig het. Die gebouekompleks in Kimberley is daarna aan maatskappye verhuur, maar het uitdagings gebied.

“Ons behou nog sekere geboue op die erf, wat onderverdeel gaan word. Die ontwikkelaar gaan van die geboue sloop en ’n nuwe kompleks oprig om meer as 600 studente in geboue met vierverdiepings te huisves. Die ontwikkelaars sal steeds die saal en swembad gebruik.”

Kimberley is lankal nie meer ’n myndorp nie, maar ’n studentestad, sê hy.

“Ons is emosioneel oor die verwikkelinge, maar dit skep nuwe geleenthede vir studente wat vir hulself ’n toekoms bou. Die verkoop van die erwe sal ons ander projekte soos terapeutiese programme en ontwikkeling stu.

“Een daarvan is die Caritas-sentrum waar 85 kinders en 30 personeellede is. Met die nuwe geldinspuiting sal instandhouding ook makliker wees.”

Die Kestell-kinderhuis was eers as Newton-tehuis bekend wat in 1890 as ’n voorstel by ’n kerkraadsvergadering ontstaan en in 1891 ingewy is. Dit is uitgebrei en in 1949 na Kestell-kinderhuis herdoop. Dit wat gesloop word, is in die 1960’s en 1970’s gebou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article