Braam van der Westhuizen

Foto: Verskaf

Die nuwe bestuur van die Noord-Kaap-rolbalvereniging gaan alles in die stryd werp om dié sportsoort in die provinsie na hoër hoogtes te voer.

Die nuwe president van Noord-Kaap-rolbal, Braam van der Westhuizen, sê daar is besondere rolbaltalent in die Noord-Kaap en wil jonk en oud uitnooi om dié sport te beproef.

Braam van der Westhuizen

“Dit is een sportsoort waar jy teen jouself en jou teenstanders meeding,” sê hy.

Ongelukkig, sê Van der Westhuizen, kry rolbal nie altyd die dekking wat dit verdien nie.

Hy noem dat Suid-Afrika se nasionale span uitstekend tydens die onlangse wêreldkampioenskappe in rolbal gevaar het.

Vier sub-distrikte in Noord-Kaap
Die Noord-Kaap-rolbalvereniging bestaan uit vier sub-distrikte –Kimberley, Kalahari, Intervaal en Conroy – en het ’n ledetal van meer as 440 spelers. Dit sluit spelers in wat op nasionale vlak meeding.

Tydens ’n onlangse werksessie om die bevordering van rolbal in die provinsie te bespreek, is die nuwe bestuur ook verkies.

Van der Westhuizen, huidige voorsitter van die Kuruman-rolbalklub en voorsitter van die Kalahari-sub-distrik, is tot president verkies. Jan Britz van die Intervaal-sub-distrik en die Hartswater-rolbalklub is tot vise-president verkies.

Jan Britz

Van der Westhuizen het die uittredende president, Ivan Botha, en die uittredende vise-president, Balan Moodalay, vir hul harde werk bedank om rolbal in die streek te laat leef.

Uitblinkers beloon

Die man en vrou wat vanjaar in rolbal uitgeblink het, is ook beloon.

Driaan van Niekerk van Kimberley is as die Victor Ludorum aangewys, en Marietjie van der Berg van Upington as die victrix ludorum. Van der Berg het ook Namibië op nasionale vlak verteenwoordig.

Victor Ludorum Driaan van Niekerk saam met die uittredende president, Ivan Botha.

Victrix Ludorum Marietjie van der Berg van die Upington-rolbalklub.

Rolbal se hoofinkomste is meestal ledegeld, en daarom is uitgawes ’n groot las vir sy spelers, veral as provinsiale en nasionale kompetisies ter sprake is.

Spelers ry onder meer van Kuruman na Victoria-Wes, van Upington na Hanover, en van Hartswater na Prieska.

Vir dié rede word gepoog om groot toernooie in Kimberley te sentreer, hoewel dit steeds uitgawes vir spelers buite die stad inhou.

Van der Westhuizen sê ’n reuse-taak wag vir die nuwe bestuur, maar dat alles in die stryd gewerp sal word om rolbal in die Noord-Kaap na ’n hoër vlak te neem, waarvoor die bestuur op lojale ondersteuning staatmaak.

  • Besoek die Facebook-blad Northern Cape Bowls vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article