Die Noord-Kaapse premier reken die nuwe DCS-gebou wat sy kantoor huur, bied heelwat meer waarde vir geld as die JB Sauer-gebou van Transnet in Kimberley-Noord wat hulle tot onlangs beset het.
Maande lank is bespiegel of die regte tenderprosesse gevolg is vir die nuwe huurkontrak.
Volgens dr. Zamani Saul, premier, is al die regte prosesse gevolg. Die DCS-gebou in Monumenthoogte is die enigste logiese keuse omdat die huurkontrak grondbelasting en dienste insluit en die gebou goed onderhou en aan veiligheidstandaarde voldoen.
“Die premier se kantoor het die 60 jaar oue Transnet-gebou sedert 2008 gehuur. Die gebou se onderhoud is mettertyd agterweë gelaat. Daar was heelwat voorvalle waarin mense in die hysbakke vasgesit het.
“Al die water het opgestoot en ons was erg verleë daaroor. Dieselfde het met ons gebeur. Lekplekke oral in die gebou het amptenary se lewe versuur en die lugversorging het gereeld gebreek.”
Weens kabeldiefstal het hulle ook gereeld sonder elektrisiteitstoevoer gesit. Daar was nie genoeg parkering vir die 280 amptenare nie. Hulle moes al om die gebou, by die treinstasie en in die straat parkeer.
Die huurkontrak het reeds in 2015 tot ’n einde gekom. Intussen het ’n dispuut tussen die premier se kantoor en Transnet ontstaan.
“Hulle het jaarliks ’n prysstyging van 6,5% geëis, wat ons geweier het om te betaal weens die gebrek aan onderhoud en die swak toestand van die gebou. Terwyl ons maandeliks R1,6 miljoen huur betaal het, het ons R4 miljoen bestee vir die onderhoud aan ’n gebou wat nie aan ons behoort nie. Die departement van arbeid het bevind dat die gebou nie meer aan die minimum veiligheids- en gesondheidsvereistes voldoen nie en dat ’n brandgevaar bestaan.
“Die departement van paaie en openbare werke wat die gebou namens die premier se kantoor bestuur, het ’n ingenieursverslag laat doen. Daarin is bevind dat die gebou nie die geld werd is wat Transnet eis nie.”
Vanweë die dooiepunt het vergaderings met die minister van vervoer en die uitvoerende hoof van Transnet oor die agterstallige huur en onderhoud van die gebou plaasgevind.
“Ons voorstel was dat hulle die vervalle gebou aan ons skenk en die skuld van R64 miljoen in jaarlikse prysstyging afskryf. Die voorstel is nie aanvaar nie. Hulle wou dit teen R68 miljoen aan ons verkoop en ons moet steeds die agterstallige skuld betaal, maar dit sou ons R42 miljoen kos om die gebou op te knap en veilig te maak.”
“Die nuwe gebou is veilig en voldoen aan standaarde. Hier is genoeg parkering.”
Volgens Saul is hulle steeds bereid om die JW Sauer-gebou op te knap en te betrek indien Transnet die gebou skenk.




