Skrywer Rudie van Rensburg is onlangs as die nuwe beskermpersoon van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ’n Woord-projek aangewys.

Die aankondiging is op 16 Oktober, wat Internasionale Woordeboekdag is, gemaak. Van Rensburg ondersteun reeds vir jare dié geldinsameling en die WAT deur telkens ’n woord uit elk van sy nuwe boeke se titels te borg.

Hy is bekend vir sy topverkoperspanningsromans en skilder ook die afgelope 30 jaar. Van sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, Amerika, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Van Rensburg sê dit is ’n groot voorreg om as beskermpersoon aangewys te word en sy liefde vir Afrikaans op dié manier uit te leef.

“Dit is vir my ondenkbaar om in ’n ander taal as Afrikaans te skryf, want dit is my hartstaal. Solank ons skryf, dig, sing en praat in Afrikaans en al sy variante, sal die taal lewend bly. Maar om dit na behore te doen het ons woordeboeke soos die WAT nodig wat voortdurend vernuwe om die volle spektrum van ons pragtige taal te weerspieël.

“Jy kan ook daarby betrokke raak deur jou gunstelingwoord te borg of te koop,” sê hy.

Dié geldinsamelingsprojek is vanjaar reeds in sy 15de jaar. Vorige beskermpersone sluit in David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch, Dawie Roodt, Amanda Strydom, Hannes van Wyk, Amore Bekker en Frazer Barry.

Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en geborgde of gekoopte woord, asook toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop.

Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000, geborg deur Sanlam.

Besoek wat.co.za en klik op Borg ’n Woord.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article