Nuutste inligting: Twee polisielede van Kby dood ná jaagtog, skietery

Geskokte polisielede en personeellede van Transnet by die toneel waar twee polisielede hul lewe verloor het.

Foto: Helena Barnard

’n 38-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy twee polisielede – ’n man en ’n vrou – van die Kimberley-blitspatrollie Dinsdag (22/08) doodgeskiet het.

Terwyl geskokte polisielede en Transnet-personeel op ’n afstand die forensiese span op die toneel van die skietery dopgehou het, is die verdagte deur ander polisielede in hegtenis geneem, blykbaar in die omgewing van Riverton.

Geskokte polisielede en personeellede van Transnet by die toneel waar twee polisielede hul lewe verloor het.

Die twee polisielede, ‘n sersant en ‘n konstabel, het inligting opgevolg oor ‘n gesteelde, gehuurde sedanvoertuig wat vanaf Bloemfontein onderweg was, sê brig. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder.

Sy sê die voertuig is in Kimberley gesien, en nadat die twee polisielede die voertuig opgemerk het, het hulle dit agternagesit.

Hulle het die voertuig gevolg wat omstreeks 10:40 teen ‘n hoë spoed die Transnet-perseel binnegejaag het.

Volgens ’n hekwag het die sedanvoertuig die versperring by die toeganghek oopgestamp, en met die pad afgejaag. Binne die perseel het hy deur nog ’n hek gejaag, waarna hy die voertuig in ’n sloot laat beland het. Van hier het hy verder te voet gevlug.

Die verdagte het met die sedanvoertuig deur twee hekke, tot in die sloot binne die Transnet-perseel in Kimberley gejaag, waarna hy te voet verder gevlug het.

Die polisielede het hom gevolg, en daar is op hulle geskiet, wat noodlottig was.

Die provinsiale kommissaris, lt. genl. Koliswa Otola, het onmiddellik alle beskikbare polisiehulpbronne mobiliseer op soek na die gewapende verdagte wat van die toneel gevlug het.

Die verdagte is gesien waar hy in die rigting van die Diamond Pavilion Mall gehardloop het. Die winkelsentrum het kort daarna van gewapende polisielede gewemel, maar die verdagte kon nie gevind word nie.

Anders as wat op sosialemediaplatforms beweer is, het geen skietery in die winkelsentrum plaasgevind nie.

Daar word gesê dat die verdagte blykbaar ‘n Transnet-bakkie gekaap het, waarna hy in die rigting van Riverton gery het.

Die verdagte het te voet gevlug nadat die gehuurde voertuig in die sloot beland het.

Otola is hartseer en geskok oor die noodlottige skietery van die twee polisielede. Sy sê ‘n aanval op polisielede is ‘n aanval op die staat.

Otola het haar innige meegevoel aan die familie en kollegas van die twee gestorwe lede oorgedra.

Die verdagte sal van moord aangekla word en sal binnekort in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article