’n Groep Noord-Kaapse sendelinge wat onlangs in die oorloggeteisterde Oekraïne was, is Maandag (26/07) in hegtenis geneem in ’n stad in Ethiopië omdat hulle in die strate geëvangeliseer het.
Andrus Strauss, ’n sendeling van Grootdrink naby Upington, sê drie lede van hul span van Spear International is in hegtenis geneem toe hulle “op en af in die strate gestap en foto’s geneem het”. Hulle is 11 lede in totaal. Dit kom nadat die groep, wat onderskeidelik van die Noord-Kaap, Johannesburg, Bethal in Mpumalanga en Gqeberha kom, Saterdag in die strate geëvangeliseer het en dit tot ’n optog gelei het.
“Twee van ons pastore en een student is toe gearresteer,” het Strauss Dinsdag ná sewe uur op die bus na Addis Ababa gesê.
Die polisie het eers aangevoer die inhegtenisnemings is omdat die sendelinge nie hul paspoorte by hulle het nie, maar later het dit aan die lig gekom dat dit is omdat Strauss en sy span Saterdag in die strate die inwoners van Jesus vertel het. Volgens hom is 86% van Jimma, die grootste stad in die suidwestelike Oromia-staat, Moslems; 1% Protestantse Christene en die res ortodokse Christene.
Tydens die optog het van die inwoners op Strauss gespoeg maar gelukkig, het hulle nie terugbaklei nie. Sy groep het in ’n kerk gaan skuil met die polisie wat buite vir hulle gewag het.
“Ons kon toe met die polisie onderhandel en danksy mense se gebede het hulle ons laat gaan. Maar die wonderlike ding is 27 mense het Saterdag hul hart vir die Here gegee.”
Sondag het Strauss-hulle ook in verskeie kerke in Jimma gepreek en volgens hom was dit waarskynlik net te veel vir die plaaslike owerhede, wat toe Maandag “wraak geneem” en hulle in hegtenis geneem het. Die sendelinge is ná vier uur uit die tronk vrygelaat op voorwaarde dat hulle die Dinsdagoggend die eerste bus na Addis Ababa, wat 351,5 km van Jimma is, moet neem en nie terugkeer nie.
Die hoofstad is glo minder streng oor geloofsake.
“Ons sou 900 birr per nag betaal vir twee mense, toe is dit skielik 1500 birr.” Strauss sê daar is ’n behoefte by die kerke in Jimma dat nog sendelinge kom en hulle bedien.
“Die belangrike ding is dat baie siele ingekom het, en ons gáán terug Jimma toe.”
Hy sê hulle is reeds besig met beplannings om sendelinge daarheen uit te plaas.
Die sendelinge gaan vir die volgende paar dae in Addis Ababa bedien en die Woord daar versprei.




