‘Noord-Kaap-meisie’ skryf haar eerste boek; genooi na boekgeleentheid in Wes-Kaap

Desere Finck met haar eerste boek, Tannie Dez stap kaalvoet met Jesus.

Foto: Verskaf

Haar liefde vir lees het waarskynlik ontkiem toe sy deur tydskrifte wat haar ma huis toe gebring het, gelees het. Daarmee saam het ’n Bybel wat sy geërf het, haar rigtingwyser geword.

“My mammie was ’n huishulp al die jare en so sou sy altyd ’n tydskrif saambring huis toe vir haar ontspanningstyd, en dan sou ek graag saam lees en so het my liefde begin . . . want ’n skrywer moet ’n leser wees,” vertel Desere Finck, wat haarself as “al die pad ’n Noord-Kaapse meisie” beskryf.

Dié 36-jarige boorling van Barkly-Wes en oudleerling van die Hoërskool Pescodia in Kimberley woon in Kuruman en is die ma van twee woelige tienerseuns.

Desere Finck met haar eerste boek, Tannie Dez stap kaalvoet met Jesus.

Dié jeugleidster by die Volle Evangelie kerk Wrenchville in Kuruman het onlangs haar eerste boek publiseer.

Tannie Dez stap kaalvoet met Jesus handel oor hoe sy by die Kruis gekom het, en hoe die ontmoeting met Jesus vir haar, ’n “helverdiende sondaar kom red het deur genade, onbeskryflik groot”.

“Die pad wat ek moes stap in my roekeloosheid en die pad wat ek tans stap is ’n baie nou pad, maar elke dag die beste wat ek ooit kon kies. Ek verruil dit absoluut vir niks en niemand in die wêreld nie.”
Desere Finck

Finck vertel dat sy tien jaar gelede ’n Bybel as erfstuk van haar oorlede skoonma gekry het.

“Dit was vir my ’n GPS van waar ek was tot waar ek vandag is. Die woord van God het my padwyser geword, my dowwe lig helder kom maak. Maar nooit in my wildste drome het ek gedink ek sal skryf nie.”

Haar ouma, Edna Dawids, het vir haar, toe Finck nog ’n kind was, gesê dat sy nog eendag ’n boek sal skryf.

“ ’n Mens glo nie daai oomblik nie, totdat die werklikheid en die openbaring geskied.”

Die waarde van die pen in haar hand het sy een nag besef: “Waar my inspirasie vandaan gekom het was deur ’n openbaring die een nag toe ek alleen in my kamer sit, so verleë, so eensaam, bedruk en so verward. Ek huil die nag so vreeslik, en ek vra: ‘Here wat moet ek maak in my verdrukking, ek het niks meer oor nie.’ En die stem van God kom deur tot my en vra: ‘Wat het jy in jou hand, Des?’

“Terwyl ek so kyk na my hand, antwoord ek: ‘Dis net ’n swart pen in my hand, Here’, en die heilige gees bedien my: ‘Skryf Des. Skryf die openbaring. Skryf jou verhale. Iemand nodig dit, jy het alles wat ek nodig’.”

Dié boek van Desere Finck kan direk by die uitgewer, of deur haar, bestel word.

Dit, sê Finck, is haar bemoediging vir iemand wat deur ’n dal gaan: “Jy wat dalk vandag voel soos niks, God sê ons het alles wat Hy nodig. Ons moet net intap tot die openbaring.

“Vandaar skryf ek nie meer uit myself nie, maar skryf ek omdat God my beveel het. Ek nooi almal op hierdie reis van ekstatiese ontdekking in wie ons rerig is in Jesus.”

Finck se boek is deur Shofar Books Publishing and Distribution in Kaapstad uitgegee, en sy is genooi om die eerste Cape Flats Literary Awards op 6 April in die Wes-Kaap by te woon.

  • Haar boek kan direk van die uitgewer bestel word, of stuur ’n WhatsApp-boodskap aan 071-864-5138 of skryf aan deserefinck@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article