Benewens die Curriebeker-eindstryd Saterdag (25/06) op Windhoek Draught-park in KImberley, wat die ongeveer 12 000 toeskouers opgewonde gehad het, was die belewenis van ’n vol stadion en geen verpligte maskers – vir die eerste keer sedert Maart 2020 – ook ’n vreugde.

Foto: Anena Burger

’n Oorweldigende “nooit weer nie” is die antwoord wat die meeste van NoordkaapBulletin se lesers in ’n informele opname op die koerant se Facebook-blad gegee het op die vraag: “Gaan jy steeds ’n masker dra?”

Dit volg ná verskeie Covid-19-regulasies verlede week byna stilletjies herroep is, sonder die gebruiklike voorafaankondiging wat sedert Maart 2020 daarmee gepaard gegaan het.

Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, het op Woensdagaand 22 Junie gesê die dra van maskers in openbare geboue en met die gebruik van openbare vervoer is nie meer verpligtend nie. So ook is daar nie meer ’n getalbeperking op byeenkomste nie, en reisigers wat die land binnekom, hoef nie meer bewys van inenting of ’n negatiewe PCR-toets te toon nie.

“As ek verkouerig of grieperig voel, sal ek die masker dra uit respek vir my medemens wat mag aansteek,” lewer Filon Smit kommentaar.

Elsa Lamprecht skryf: “Ek gaan dit vir altyd dra. Het nog nooit weer keelseer, verkoue of enige virale infeksie gehad. So ons mag seker doen waarmee ons gemaklik is.”

Ook Maryka Viviers skryf sy sal steeds haar masker dra.

Niel Basson laat weet ook hy sal nog “altyd” ’n masker dra.

Lynette van Straaten sê sy sal die masker in besige plekke dra, en waarskynlik totdat die winter verby is.

“Ek weet hoe voel Covid. Sal hom nie tart nie,” skryf sy.

“Die masker mag miskien nie baie beskerming bied nie, maar ek het voor die maskers soveel vrot asems geruik en dankie tog die maskers het my daardie aasreuk of sigaretasems of gisteraand se suurwynreuk gespaar,” skryf Helena Meyer.

Hannelie Steyn laat weet sy sien gereeld kliënte en as ’n kliënt van haar verwag om ’n masker te dra sal sy dit respekteer.

“Gaan dit nog dra, daar is gedurig een wat nies of hoes en proes naby jou, of keelskoonmaak met ’n gedruis . . . nee, nou is dit my keuse, gaan dit beslis in publiek dra,” skryf Annetjie Coelho.

In winkels, “waar mense op jou staan by tille,” sal sy steeds ’n masker dra, skryf Lena Liebenberg.

“Al wat ek nou gaan dra, is make-up,” skryf Karen van den Heever.

Hiermee stem Charlene Reid saam, wat skryf: “Rooi lipstick en groot smiles all over!”

Hannes Grobler laat weet hy sal die masker nog vir die winter dra, “en dan oor ’n tydperk van so twee jaar hom stadig tot onder my ken inskuif sodat my vriende en familie aan my gewoond kan raak sonder ’n masker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article