Die saak waarin verskeie werknemers van die Kai !Garib-munisipaliteit hul werkgewer vir die oortreding van die Pensioenfondswet voor die hof daag, is op Maandag 13 November in die Upington-landdroshof na 4 Maart uitgestel.
Die oortreding het glo tussen September 2021 en Maart 2022 plaasgevind.
In ’n verklaring sê Harold McGluwa, die DA se Noord-Kaapse leier, dat dié munisipaliteit ’n lang geskiedenis van agterstallige betalings vir derdeparty-bydraes het. Volgens hom het die party reeds in 2017 ’n strafregtelike klag teen die munisipaliteit ingedien toe dit die eerste keer aan die lig gekom het dat versuim word om die bydraes vir pensioen- en ander derdepartye te maak.
McGluwa sê volgens ’n parlementêre antwoord deur Enoch Godongwana, minister van finansies, in Julie vanjaar is Kai !Garib gelys as een van ses munisipaliteite in die provinsie wat agterstallige maandelikse statutêre bydraes tot pensioenfondse het.
Volgens Godongwana het Kai !Garib se skuld in dié verband sedert Februarie 2022 na R30 miljoen opgeloop.
’n Soortgelyke klag is teen die Renosterberg-munisipaliteit gelê, ook met betrekking tot die versuim om pensioenfondsbydraes van munisipale werknemers van altesaam meer as R22 miljoen te betaal.
“Ons hoop dat dit as voorbeeld sal dien vir alle staatsamptenare wat die wet oortree en sy werknemers geldelike skade berokken,” sê McGluwa.
Hy noem dat die party ook besig is om ondersoek na ander pensioenverwante onreëlmatighede in te stel. Dit sluit minstens vier ander munisipaliteite in, waaronder Thembelihle, Magareng, !Kheis en Ubuntu.

