Behalwe daarvoor dat sy haar skoolloopbaan as die ATKV se beste tieneraktrise in die land afsluit, het ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Martin Oosthuizen (HMO) in Kakamas ’n uitsonderlike jaar met ’n rits eerbewyse beleef.
Die eerbewys as die land se beste tieneraktrise het Danelle Jacobs in Oktober tydens die eindronde van die nasionale ATKV-tienertoneelkompetisie vir haar hoofrol in die HMO-produksie Bulldozer ontvang.
Dié ronde het op 3 Oktober in die Lyric-teater by Gold Reef City in Johannesburg plaasgevind.
Op dié dag het Danelle die uitsonderlike prestasie behaal om op een dag aan twee nasionale eindrondes deel te neem.
Ná haar optrede om 14:00 in Bulldozer, het sy om 19:30 in die eindronde van ATKV-DigiToneel se werklikheidsreeks Gekies vir die kollig op VIA verskyn. Dit kom nadat sy as een van die agt beste deelnemers aan vanjaar se ATKV-DigiToneel gekies is. Sy het die derde plek behaal.
Om aan DigiToneel te kon deelneem, moes kandidate nuutgeskrewe monoloë verfilm waarvoor die sintuie smaak, reuk, sig, aanraking of gehoor as inspirasie dien. Danelle het met Skisofrenie kwalifiseer.
Op ’n onlangse prysuitdeling by HMO het Danelle die trofee ontvang vir die individu wat die dorp se naam die beste uitgedra het, asook die trofee vir mees voortreflike prestasie. Dié trofee het sy met mede-akteurs en produksielede van Bulldozer gedeel – die HMO-toneelstuk wat uit 231 produksies vanuit Suid-Afrika en Namibië die derde plek in die eindronde van die ATKV-tienertoneelkompetisie behaal het.
Op die skool se prysuitdeling het Danelle ook die trofee vir veelsydigheid ontvang, wat sy met Danel Hayes deel. Dit word aan ’n gr. 12-leerling oorhandig wat veelsydige bydrae op die gebied van akademie, sport, kultuur en leierskap gelewer het.
Danelle het ook twee trofeë vir Afrikaans ontvang: een vir die beste volgehoue prestasie in Afrikaans van gr. 8 tot gr. 12, en die trofee vir die leerling met unieke skryftalent.
Boonop het sy nog twee eerbewyse vir kultuur ontvang, en ’n akademiese eerbewys vir ’n tweede plek as ’n akademiese toppresteerder in gr. 12.
Danelle was vanjaar ’n hoofleier, die adjunkjunior-polisiekommissaris van die provinsie, en het ’n derde plek in die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Poort-skryfkompetisie behaal.
HMO se dramadepartement blink gereeld uit, met personeellede Barnie Mans en Alae Hanekom wat al talle eerbewyse ontvang het.
Danelle wil in 2024 haar BA-graad in taal en kultuur aan Universiteit Stellenbosch (US) aanpak.




