Noord-Kapenaars wat wil weet watter planne die Noord-Kaapse regering vir 2023 het, en terugvoer oor 2022-projekte wil hê, kan Donderdag 2 Maart om 09:00 nader aan die radio, selfoon, tablet of rekenaar skuif om die premier, dr. Zamani Saul, se provinsiale staatsrede aan te hoor.

Dié provinsiale staatsrede (State of the Province Address of Sopa), word vanaf die Hantam-sportterrein in Calvinia in die Namakwa-distrik gelewer. Dit word egter direk oor talle radiostasies en op sosialemediaplatforms uitgesaai.

Volgens ’n verklaring van die kantoor van die speaker van die Noord-Kaapse wetgewer, Newrene Klaaste, beoog die wetgewer om die jaarlikse provinsiale staatsrede op ’n wisselbasis in die verskillende distrikte aan te bied om sodoende die wetgewer na die mense van die provinsie te bring.

Intussen het die polisie in ’n verklaring bevestig dat verskeie eenhede op ’n gereedheidgrondslag geplaas is om na die veiligheidsaspekte van die geleentheid om te sien.

Brig. Mashay Gamieldien van die Noord-Kaapse mediasentrum, sê enige misdadige aktiwiteit sal nie geduld word nie.

Gamieldien noem dat geringe verkeersontwrigtings in Calvinia, in die omgewing van die sportterrein, kan plaasvind.

In ’n verklaring sê die opposisieparty dat hy graag sal wil hê dat die premier verskeie kritieke kwessies in die provinsiale staatsrede moet aanspreek “in plaas daarvan om dieselfde storie van vorige jare aan te bied.”

Harold McGluwa, LPW en die DA se Noord-Kaapse leier, sê die party is van mening dat die premier “ ’n dapper uitspraak moet maak” en dat daar nie voortgegaan kan word om sekere kwessies in die hande van die nasionale regering te los nie.

  • Die radiostasies waarop dit uitgesaai word, is Radio Riverside, Radio Kaboesna, RTS FM, Revival FM, Radio NFM, Kurara FM, Ulwazi FM en Vaaltar FM.
  • Volgens beplanning sal dit ook direk gebeeldsend word op die Facebook-blaaie Northern Cape Provincial Legislature en Northern Cape Provincial Government.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article