Abigail Brand (kaptein van die Griekwas se o.18-meisiesrugbyspan) en Zondrea Speelman (kaptein van die o.16-span).

Foto: Anena Burger

Die o.16- en o.18-Griekwas-meisiesrugbyspanne is tot Donderdag (13/07) in Johannesburg waar hulle aan die Nasionale Meisies-rugbyweek deelneem.

Hiertydens ding hulle teen die res van die land se provinsiale meisiesrugbyspanne by die Jeppe High School for Boys in Johannesburg mee.

Die openingswedstryd vir die o.16’s was tussen Griekwas en die Sharks, en vir die o.18’s tussen Griekwas en Oostelike Provinsie.

“Die meisies wat vir die twee spanne gekies is kom van oor die hele provinsie heen”, sê Ronald Maarman, ’n afrigter.

Hy sê die meisies is opgewonde om deel te neem nadat hulle twee stelle proewe agter die rug het.

Abigail Brand (kaptein van die Griekwas se o.18-meisiesrugbyspan) en Zondrea Speelman (kaptein van die o.16-span).

Zondrea Speelman (16) van die Hoërskool Kenhardt is uit haar vel dat sy vanjaar as die o.16-kaptein gekies is.

“Dit is my tweede jaar dat ek vir die span gekies is, en verlede jaar was ek onderkaptein.”

Sy is trots dat sy ’n ambassadeur vir haar skool, die provinsie en die sport kan wees.

Abigail Brand (18) van die Hoërskool Port Nolloth is vir die vierde keer tot die provinsiale span gekies.

Hoewel sy aanvanklik nie ’n aanhanger van rugby was nie, het sy later lief geraak daarvoor.

“My liefde vir rugby het begin toe ek my boetie na sy rugby­oefeninge vergesel het. Hoe meer ek dit bygewoon het, hoe meer het ek daarvan begin hou en het begin deelneem,” sê sy.

Maarman sê daar is geweldige potensiaal vir meisies in rugby, en wat hulle kniehalter is die afstande in die provinsie.

Hy sê dit is ook moeilik om borge te kry omdat meisiesrugby nie uitgesaai word en dekking geniet soos vir seuns nie.

“Waar ander skole ’n paar keer ’n jaar kampe kan aanbied, kan ons slegs een kamp aanbied.”

Hy sê dit is ’n voorreg om te sien hoe die meisies bo hul uitdagings uitstyg en hoe hulle die sport verwelkom.

“Daar is nie ’n beter gevoel as om aan hierdie kinders die geleenthede te bied waarvoor hulle so hard werk nie. Meisies kan werklik vorder in dié sportsoort.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article