’n Noord-Kapenaar is die kampioen van die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging se jaarlikse nasionale president-skietkampioenskap wat Vrydag (18/08) en Saterdag op die Meerkatgat-skietbaan buite Soutpan in die Vrystaat gehou is.
Die 28-jarige Nic Joubert van Warrenton het 140 topskuts van die land wat tot die nasionale kampioenskap deurgedring het, gewen en ongelooflike prestasies behaal ondanks die sterk wind wat sommige skuts gepla het. Joubert was self ’n bietjie oorbluf.
“Ek het geweet ek gaan goed vaar, maar het nie geweet dit gaan so goed wees nie. Ek is nederig dankbaar.”
Joubert bedryf sy eie vervoeronderneming, Transport Safgri, en sê hy skiet sedert 2012 toe hy nog ’n leerling aan die Hoërskool Vaalharts in Jan Kempdorp was.
Hy het ’n voltal in die Springbokvlakte-tabel behaal waar na ’n springbok geskiet is, terwyl hy ook tien V-kolle gekry het wat beteken dat daar na ’n kleiner ringetjie geskiet is om te bepaal wie die wenner is. In die Bosveld-tabel waar na ’n blouwildebees geskiet is, het hy 350 punte en sewe V-kolle behaal.
Hercules Louw van Pretoria-Oos was tweede en J.A. Podges van die Edelvalk-tak in Gauteng derde.
Joubert se meisie, Marna Kotze van Warrenton, was daar om hom geluk te wens en is baie trots op hom.
Die individuele afdeling vir die 140 beste skuts is Saterdag gehou, terwyl die spankampioenskap met vier skuts per span Vrydag beslis is.
’n Span van Mpumalanga, waarvan amper almal boere is, het hier met die louere weggestap. Hulle is Jannie Venter, ’n boer van Balfour, Ruan Botha, ’n boer van Standerton, CM Krugel, ook ’n boer van Balfour, en Justin van As van Heidelberg, die enigste wat nie boer nie.
Altesaam 44 spanne het sake uitgespook. Hulle het onder meer met 260-Remington- en 6.5-Creedmoor-jaggewere geskiet.
Die span het ’n trofee, en die spanlede R4 000 elk gewen.
Basie Bergh, president van die SA Jagtersvereniging, was in sy skik met die 14de jaarlikse kompetisie wat deur die vereniging se aanlyn winkel geborg is. Gideon Scheepers, voorsitter van die Vrystaat-Sandveldtak van die vereniging, sê hy is in sy skik met die goeie uitkomste van die kampioenskap wat weer suksesvol verloop het.



