Die 17-jarige Kayleigh Birch van Kimberley het goud verower op die onlangse Suid-Afrikaanse vyfkampkampioenskapsbyeenkoms wat in Bloemfontein plaasgevind het.
Dié Noord-Kaapse atleet, wat eers in verlede jaar met moderne vyfkamp begin het, gaan eersdaags aan die 2023 African-Oceania-kampioenskapsbyeenkoms in Kaïro in Egipte deelneem. Op die byeenkoms van 29 Augustus tot 2 September kan atlete vir die 2024- Olimpiese Spele in Parys kwalifiseer.
Lariza Bredenkamp, ’n bestuurslid en afrigter van Noord-Kaapse Vyfkamp, sê dit is waarskynlik die eerste keer dat ’n atleet van die Noord-Kaap aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het.
Dit was ook Birch se eerste deelname aan ’n kampioenskap in vyfkamp.
Tydens die kampioenskap ding atlete in verskillende ouderdomsafdelings mee.
Birch het in ’n senior afdeling teen atlete ouer as sy en met meer ervaring deelgeneem. Ongeag hiervan het sy ’n eerste plek behaal.
Bredenkamp sê dat slegs vier atlete van elke geslag en van elke land, uit slegs die senior afdeling, vir deelname aan die wêreldkampioenskap genooi is.
Moderne vyfkamp behels die dissiplines van perdry, skermkuns, swem, asook laserpistoolskiet (“laser run”), wat skiet en hardloop insluit.
“Vyfkamp is ’n individuele sportsoort. Dit toets elke moontlike eienskap vir ’n holistiese atleet. Jy moet byvoorbeeld nie net vinnig wees nie; jy moet op jou voete kan dink. Jy moenie net perd kan ry nie; jy moet kan mik. Jy moet ook propriosepsie hê,” vertel Bredenkamp.
“Dit alles moet ook nie net individuele eienskappe wees nie; jy moet dit in kombinasie kan gebruik. Jy moet kan mik, konsentreer, balans hou en strategies dink terwyl jy jouself fisiek uitdaag.
“Jy moet kophou en deur die hele oefening gaan, al word jy moeg. Jy moet strategies bly dink, en jou denke moet jou deurtrek.”
Ongeag uitputting moet die atleet byvoorbeeld vinnig vanuit ’n ander ingesteldheid dink wanneer dit by die kleiner bewegings van skermkuns kom.
Om hierdie eienskappe te kan bemeester, verg elke dag ure se oefening, asook geduld. ’n Atleet moet boonop funksioneel sterk wees, nie net in ’n spesifieke deel van die liggaam nie.
Bredenkamp sê atlete wat suksesvol aan vyfkamp wil deelneem, behoort ’n program te volg en nie eiewys te wees nie.
“ ’n Atleet kan ook te veel oefen en te min rus. ’n Mens is gewillig om sukses na te jaag en in elke dissipline te verbeter, maar jy kan nie elke dag elke dissipline oefen nie. Jy moet ook in jou herstelproses gedissiplineerd wees.
“Nie net dit wat jy in jou oefenprogram doen nie, maar ook wat jy buite die program doen, het ’n invloed. Wat jy eet, hoe jy rus, hoe jy stres hanteer . . . sulke aspekte word baie keer afgeskeep of nie as deel van die program geag nie,” sê sy.
Laserpistoolskiet is eers verlede jaar as ’n sportsoort in die Noord-Kaap bekendgestel. Sedertdien is ’n provinsiale klub onder die beskerming van die South African Modern Pentathlon Association (Sampa) begin.
Laserpistoolskiet, vyfkamp, biathle en triathle word onder die vaandel van die Union Internationale de Pentathlon Moderne (UIPM) geplaas.
Dit stimuleer vaardighede waaroor ’n 19de-eeuse soldaat moes beskik: Ry ’n onbekende perd, swem oor ’n river, hardloop en skiet, en ’n swaardgeveg.
Die vyfde dissipline van vyfkamp – perdespring – kom by die o.20-ouderdomsgroep in.
“Ná verlede jaar se bekendstelling het ons klub baie goed gevorder. Die meeste van die atlete neem nog op sosiale vlak deel,” sê Bredenkamp.
Sy sê Sampa doen moeite om betrokkenes in te lig en bied opleidingskursusse aan, asook geleenthede vir groei en ontwikkeling op internasionale vlak. Bredenkamp het onder meer ’n afrigtingskursus in Desember voltooi, en pas ’n internasionale kursus in die bekendstelling van beoordeling.
- Mense wat daarin belangstel om by die sportsoort betrokke te raak, of om vir Bredenkamp en Birch met hul bywoning van die kampioenskap te ondersteun, kan Bredenkamp by 066-188-8117 kontak of by bredenkamplariza8@gmail.com.





