Barend la Grange tydens ’n onderhoud.

Foto: Felix Dlangamandla/Beeld

Terwyl so baie mense moedeloos is oor die land, vertel Barend la Grange vir Erika de Beer hoe ons self hoop kan skep deur klein te dink en ons moue op te rol.

So sewe jaar gelede het Barend la Grange uiteindelik sy droom verwesenlik om oudpres. Kenneth Kaunda in Zambië te ontmoet. In ’n lang kuier het La Grange vir Kaunda gevra wat dink hy van Jacob Zuma, toe nog president van Suid-Afrika.

Barend la Grange tydens ’n onderhoud.

“Hy’t my so lánk sit en kyk en hy antwoord my nie. Hy was 92 en sy verstand was nog helder, toe sê hy vir my net een ding: ‘South Africa, you will have to rebuild’.”

Dit was sy enigste kommentaar oor Suid-Afrika.

“En ek sê vandag: We have to rebuild. Dis ons oplossing. Everybody. Not only the government. We will have to rebuild. Ons het iets om te rebuild.” Dis presies wat die 70-jarige La Grange nou doen, maar daar is baie onse in sy pond – ons almal.

Dink klein

La Grange verstaan hoe om groot te dink: Ná 26 jaar by Sanlam het hy in 2001 as hoof van werknemersvoordele uitgetree en ’n risikobestuursonderneming begin. Dít het hy in 2008 verkoop.

Nou is sy boodskap: Dink klein.

Sy betrokkenheid by gemeenskapswerk kom al jare. Hy was uitvoerende adjunkhoof van Citizens in Partnership with Government.

“Dit was ’n nieregerings­organisasie wat hom beywer het vir mense wat in die steek gelaat is, soos die regering maar geneig is om te doen, en gekyk het na sekere projekte en dat dit deur private inisiatiewe, maatskappye, geborg word.”

Barend la Grange met sy rugsak en sy slaapgoed en ’n gewillige motorfietstaxi op pad na die volgende Afrika-avontuur.

Nie lank ná die Kaunda-besoek nie het aartsbiskop Thabo Makgoba­ en die sakeleier prof. Bonang Mohale vir La Grange genader om South Africa Day aan die gang te kry. Dit sou op dieselfde beginsels as Australia Day geskoei wees. La Grange het anders gedink:

“Ek dink nie dis die regte tyd om Suid-Afrika se prestasies te vier nie. Daar’s te veel uitdagings: Ons ligte brand nie. Die infrastruktuur gaan agteruit. Korrupsie en staatskaping het hoogty gevier.”
Barend la Grange

Sy voorstel was dat dit mense eerder mobiliseer om verandering in die land teweeg te bring.

“Ons kan later jare vier wat ons bereik het, maar ons voel net die mense in Suid-Afrika is negatief, baie het nie hoop vir die land se toekoms nie.”

Deur dié organisasie, asook die Privilege-stigting, waarby hy deesdae betrokke is, en Dialoog vir Aksie beywer hy hom saam met ander basies vir een ding: om hoop te skep.

“Die oplossing vir ons probleme gaan nie van bo af kom nie. Dit gaan nie van Ramaphosa en die ANC-regering af kom nie.”

Daarom moet ons as Suid-Afrikaners eienaarskap van ons si­tuasie vat.

“Hierdie land is my land. Ek wil nêrens anders heen gaan nie. Ons kan nie net terugsit en moedeloos raak en sê ‘ja, die regering, die regering’ nie. Niks gaan verander nie, ons sien dit elke dag. Ons moet oplossings soek.”

Krisis as katalisator

“Soms moet jy ’n krisis gebruik om veranderings teweeg te bring.”

So was dit in Coligny in 2017 en Senekal in 2020. Die dood van die 16-jarige Matlhomola Moshoeu het die Noordwes-dorp laat brand en die moord op die 21-jarige plaasbestuurder Brendin Horner het die Oos-Vrystaatse gemeenskap in ’n kruitvat omskep. In Coligny en die township Tlhabologang, soos later in Senekal en Matwabeng, het die gemeenskap byeengekom en ’n vredesforum gestig.

‘n Vredesoptog in Coligny op Suid-Afrikadag in November 2018.

“Hulle het gesien: As ons nie by mekaar gaan uitkom nie, gaan ons mekaar uitwis.”

South Africa Day het betrokke geraak by ’n projek wat op gemeenskaplike belange eerder as op verskille fokus – die CRPP-projek. C staan vir cleaning, R staan vir repairing, P vir painting en P vir planting.

“As jy daai vier dinge doen, dan het jy ’n nuwe dorp.” Jy maak dit beleggingsvriendelik, toeristevriendelik en misdaadonvriendelik.” – Barend la Grange

Klein suksesse maak ’n mens positief, selfs in ’n omgewing wat nie positief lyk nie, sê hy.

“Die uitdagings in Suid-Afrika lyk so groot en dit ís groot, maar as ons net na die groot dinge gaan kyk, dan raak ons later so moedeloos, dan doen ons niks.

“Ons kan hierdie klein dinge doen, sodat dit daartoe kan lei dat daar verbetering van groot dinge kan wees, sodat daar trots kan wees.

“Ons het ’n ongelóóflike land. Ons sien dit nie, want die plekke is vuil en stukkend.

“Kom ons skep modelle oor Suid-Afrika heen, en dan maak ons Suid-Afrika só reg. Dan kan ons ander goed soos korrupsie takel.”

’n Wil en ’n weg

“Ek het al baie oproepe gekry: ‘Barend, jy moet na dáái dorp toe gaan, hulle het hulp nodig’. Ek sê nee, húlle moet dit begin. Ek kan inkom en advies gee, help met strategiese beplanning en momentum gee aan die projek, maar die oplossing moet van die mense kom.”

Omdat die politieke wil om verandering teweeg te bring op die meeste plekke ontbreek, is ’n gemeenskapswil nodig.

Barend la Grange tydens ’n skoonmaakprojek in Alexandra naby Sandton.

“Daardie gemeenskapswil kan nie van buite af kom nie.”

Selfs ’n klomp geld verf die krake nie permanent toe nie.

“Jy kry ’n kontrakteur en daai ou gaan maak skoon en reg, maar die probleem is oor ses maande lyk die plek soos hy vroeër gelyk het.

“Jy moet self eienaarskap vat, self kapitaal in jou eie dorp belê om dinge reg te maak.”

Skoonmaak en regmaak kos nie verskriklik baie geld nie. Maatskappye is al moeg, hulle vertrou nie meer die mooi beloftes nie.

“Doen eers, dán sê jy vir hulle: ‘Dít het ons met geen of ons eie kapitaal gedoen. Wil jy help?’ ”

Jy moet ook verseker dat jy vooraf ’n samewerkingsooreenkoms met die plaaslike regering het, sê La Grange. Baie mense sê hulle kan nie saam met die regering werk nie.

“Nee, hoeveel keer het jy al probeer om saam met hulle te werk? Dis nie die regering se dorp nie, dis nie die munisipaliteit se dorp nie, dis nie die korrupte handjievol politici se dorp nie. Hou hulle verantwoordelik, maar moenie die houding hê van ‘ons gaan julle wys, ons gaan dit beter as julle doen’ nie.”

Bid én werk

As daar een ding is wat La Grange moedeloos maak, is dit as mense sê: “Ag, ons kan maar net bid vir ons land.”

“Nee, ons kan nie net bid vir ons land nie. Bid en werk gaan mos saam. Geloof sonder werke beteken niks. Die Bybel sê mos: ‘Die Here sorg vir die voëls van die hemel, hoekom sal Hy nie vir julle ook sorg nie?’ Ek het nie die voëltjies vanoggend op die draad gesien met hul bekke oop en die kos val daarin nie.

“Nee, hulle gaan vlieg en gaan soek die kos en dan word daar vir hulle gesorg.”

Daar is baie wat hom positief maak, soos planne wat die private sektor vir alternatiewe krag maak. Vir hom beteken die term vaderland “ek is wettig hier, ek is histories verbonde aan hierdie land, en voel kultureel tuis”. As dit alles waar is, “dan sê ek dit is my vaderland, ek wil hier bly”.

“Baie van ons mense sê: ‘Ons voel ontuis’. Ek laat my nie ontuis voel deur ’n regering nie. Dit is my vaderland, ek voel kultureel baie, baie tuis.”

La Grange se een seun en gesin woon in Amerika en het burgerskap daar.

Die radiojoernalis Foeta Krige (links) en Barend la Grange in Tunisië.

“Die wêreld is mos ons woonplek. Daar’s niks fout daarmee nie. Ons jong mense, laat hulle gaan. Maar mense moenie gaan omdat Suid-Afrika nie ’n toekoms het nie. Mense moet gaan oor geleenthede, avontuur . . .

“Ons wat hier bly, moet ’n verskil maak terwyl ons nog die energie en gesondheid daarvoor het. Ons het die mooiste land in die wêreld. Suid-Afrika het soveel om te bied, maar dis ons verantwoordelikheid om vir ons kinders en ons kleinkinders ’n nalatenskap te gee van ’n land wat werk.”

Anders en eenders

Sy pa het ’n huurmotoronderneming in Kaapstad se noordelike voorstede gehad. Taxi’s en busse is al waarmee La Grange ry wanneer hy alleen op sy toere in Afrika gaan, nou al 21 jaar lank.

“Dan slaap ek in villages en gesels met mense, want ek stel belang in hoe hulle leef. Die rede hoekom ek dit doen, is omdat mense so verskil van my. Die diversiteit fassineer my.”

“Dis my eenvoudige definisie van rasseverhoudinge: Ons moet met mekaar kan saamwerk en mekaar se verskille geniet en waardeer, maar daar moet ruimte wees, sonder om te kritiseer, vir elkeen se eie kultuur as hy dit ook wil uitleef in ’n bepaalde stadium.”
Barend la Grange

Dit moet dus nie by praat bly nie, maar lei tot beter persoonlike omstandighede en beter behuising vir Suid-Afrikaners, kos vir hongeres, beter gesondheidsdienste, onderwys, skoon water en mooier, beter, skoner dorpe.

Haal die angel uit

As ons vorentoe wil gaan, moet ons goeie verhoudinge handhaaf, anders kan ons nie saam besluite neem nie, sê La Grange.

“Ons kan met mekaar verskil, maar ons moet mekaar nie verneder nie. Ons moet die angel van aggressie uit die debat haal. Dis normaal dat ons verskil, ons kom uit verskillende kulture, agtergronde en opvoeding, ensovoorts. Maar ons het soveel in gemeen.”

Suid-Afrika se oorgang na demokrasie was eintlik ongelooflik, sê La Grange.

“Dit is omdat ons mekaar respekteer. Ons klop onsself te min op die skouer oor wat ons bereik het. Ons kan verhoudings bou ongeag verskille.”

Maak ons gras groen

La Grange was weer by Kaunda en dié keer het hy ander wit Suid-Afrikaners saamgevat.

“Toe praat ons oor die verlede. Dáái jare was hy die grootste vyand, want die ANC se hoofkantoor was in Lusaka. Nou is dit 40 jaar later en tien Afrikaanssprekende wit mense sit om ’n tafel en ons praat oor die verlede, en hy speel so op sy kitaar en hy sing, en hy gee vir ons elkeen ’n boek, Letter to My Children, en hy bid vir elkeen.”

La Grange se toere deur Afrika het ander lus gemaak, dus vat hy deesdae groepe saam, soos binnekort weer na Rwanda.

Barend la Grange en Erns Grundling vroeër besig om die reis met ’n toergroep na Rwanda te beplan.

Daar gaan hulle na die gorillas, die goue ape en die Kivu-meer kyk, en op slaggatlose paaie in ’n misdaadvrye omgewing ry.

Daarna kom hy terug, want elke land het sy uitdagings, selfs Europa met sy buurman Wladimir Poetin “wat die hele Europese vasteland binne ’n dag of twee in ’n kernoorlog kan dompel”.

“Ek wil nie hê mense moet Suid-Afrika verlaat omdat hulle nie hoop het vir Suid-Afrika nie. Kom ons skep hoop vir mense.”

De Beer is ’n redaklisielid van Netwerk24. Die berig het in Junie op Netwerk24 verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article