Die groep navorsers en vrywilligers is van links Angus Anthony, Marizaan de Jong, Bryon Mannie, Ester van der Westhuizen-Coetzer en Matthew Wessels.

Foto’s: Verskaf

Navorsers het vanjaar meer witrugaasvoëlkuikens in neste in die Dronfield-wildreservaat buite Kimberley en ander nabygeleë plekke as verlede jaar teëgekom tydens hul jaarlikse besoek om kuikens te ring en merk.

Angus Anthony, wat al meer as 30 jaar navorsing op dié hoogsbedreigde roofvoël namens BirdLife SA doen, sê die rede hoekom daar meer kuikens as verlede jaar is, is onduidelik.

Vanjaar het hulle 136 aktiewe neste gevind, teenoor verlede jaar se 122.

“Ons kan baie van die kuikens nie uit die neste haal om ringe aan die pote te sit en vlerkmerkers aan te heg nie, want hulle is te jonk. Dit is moontlik die ouers se tweede poging om kuikens groot te maak nadat die eerste poging misluk het. Ons het vandeesweek kuikens ontdek wat letterlik dae oud is.”

Gewoonlik moet die kuiken meer as 60 dae oud wees, met ’n vlerklengte van meer as 320 mm om die merkers te kan aansit. Hulle sal op 120 dae of ouer begin vlieg en die nes verlaat.

Die witaasvoëlkuiken is oud en groot genoeg dat ringe aan sy pote en merkers aan sy vlerke geheg word.

Anthony, wat 75 jaar oud is, het tot onlangs nog self in die stekelrige kameeldoringbome geklim tot op die krone waar die neste is.

Vanjaar het jong manne soos Bennie van der Westhuizen-Coetzer en Byron Mannie die taak verrig. Anthony het hulle goed opgelei in die kuns van boomklim en hoe om kuikens te hanteer.

“Ons het vier vrywilligers van Engeland asook twee van Frankryk wat ons help. Daar is ook mense van BirdLife SA, die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) en personeel en oud-personeel van die McGregor-museum in Kimberley wat ons bystaan, asook personeel van Ekapa-myn. Ander natuurliefhebbers in Kimberley help op dae wat dit hulle pas.”

Tegnologie word ingespan om tyd en moeite te spaar. Hulle sal ’n kamera op ’n lang paal bo-oor ’n boom lig om die nes te bekyk en af te neem. Die foto word per Bluetooth geneem en na Anthony se selfoon gestuur. Sodoende bepaal hulle eers of daar ’n kuiken in is, en of dit groot genoeg is om vlerkmerkers en pootringe te kry.

Bennie van der Westhuizen-Coetzer in die boom om die aasvoëlkuiken versigtig uit die nes te haal en later weer terug te plaas nadat dit gering en die vlerke met merkers gemerk is.

Vir Anthony was vanjaar baie spesiaal omdat sy dogter, Ruth Anthony, wat in Engeland bly, verlede week tyd saam met hom in die veld bestee het om te kyk wat haar pa doen, en watter belangrike bydrae hy tot navorsing lewer.

“Dit was wonderlik om haar saam te neem, dit was die eerste keer wat sy dit gedoen het.”

Anthony en sy span sal later vandeesweek neste in die Samaria-omgewing buite Kimberley bekyk, en vandaar na die Rooipoort-wildsplaas langs die N8-roete gaan om aasvoëlkuikens te ring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article