Die hooggeregshof in Kimberley het Maandag (18/07) in ’n opspraakwekkende moordverhoor gehoor tekkiespore wat die polisie op die plaaswerf van wyle Piet Els (86), miljoenêr-sakeman, gevind het, stem ooreen met die sole van twee paar skoene wat later by ’n verdagte se huis gevind is.
Die eienaars van die tekkies was onder die aanvallers wat Els en sy vriendin Rikkie Alsemgeest (toe 68) aangerand en gemartel het en haar met ’n strykyster gebrand het. Els is 111 dae ná die aanval, op 24 Januarie 2018 op sy plaas buite Kimberley, in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.
Die beskuldigdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho; Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Wilson Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.
Die hof het vroeër in die verhoor getuienis gehoor dat Zuma na bewering van KwaZulu-Natal gery het om Ndlala en haar man, asook Mahomane, in Mbombela in Mpumalanga te ontmoet, waarna hulle in ’n ander motor na Kimberley gery het om die beweerde misdaad te pleeg. Luidens die klagstaat het vier mans tussen 01:00 en 02:00 deur verskeie deure gekom en Els se slaapkamer binnegedring. Hulle het die bejaardes gedreig en Els probeer dwing om die kluis oop te maak. Els was nie in staat om dit te doen nie, en hy en Alsemgeest is gemartel. Alsemgeest is aan ’n stoel vasgemaak.
Die aanvallers het die kluis met ’n hoekslyper oopgesny, die inhoud gesteel en met die Mercedes gevlug. Alsemgeest het haarself bevry en die polisie ontbied.
Die staat voer aan die aanval is vooraf beplan en die betrokkenes het die buit verdeel.
Selfone, ’n kamera, kontant, Krugerrande, diamante, polshorlosies, ringe, juwele en mansjetknope, vuurwapens, huishoudelike artikels en die Mercedes is onder meer gebuit.
Sers. Donald Sehako, ’n hondehanteerder en misdaadtoneelondersoeker, het getuig hy kon net twee identifiseerbare voetspore op die werf vind, waarvan hy gipsafdrukke gemaak het. Die voetspore het wegbeweeg van die huis na ’n heining en die nabygeleë veld.
Die ondersoekbeampte het later ’n paar All Star-tekkies en ’n paar Puma-tekkies vir ontleding gebring wat by Qhautse se huis gevind is. Sehako het bevind die betrokke tekkies is van dieselfde grootte, en hul sole het dieselfde patrone en identifiseerbare merke, as die spore op die werf.
Sehako het getuig daar is ’n identifiseerbare merk op die hak van een All Star-tekkie, en die Puma-tekkies het vele kleiner identifiseerbare merke gehad. Hy weet nie wat die tekkies se grootte is nie.
Die gipsafdrukke is drie maande ná die moord vernietig, en daar is nie op die dag van die ondersoek foto’s van die spore op die toneel geneem nie.
Adv. Themba Diba het namens Motlalentwa Qhautse aangevoer die betrokke tekkies behoort nie aan hom nie, en dat hy ’n nr. 7-skoen dra. ’n Ander man wat aanvanklik in hegtenis geneem is, dra ’n nr. 6-skoen. Regter Lawrence Lever het versoek dat die bewysstuksakke waarin die tekkies is in die regsverteenwoordigers se teenwoordigheid oopgemaak word sodat die grootte bepaal kan word.
Konst. Khomunala Thompho het getuig oor Lizbeth Ndlala se verklaring wat sy ná Ndlala se inhegtenisneming afgeneem het. Hierin beweer Ndlala sy het saam met haar man, Zuma en Mahomane deur die nag van Mbombela na Kimberley gery “om munte uit die grond te grawe”.
Die groep mense het daardie dag en ’n gedeelte van die volgende nag in Kimberley by ’n onbekende huiseienaar se huis deurgebring. Deur die nag het vyf gewapende mans hulle weggejaag. Met hul terugkeer in Mbombela het Zuma vir haar twee hande vol munte, en vir haar en haar man elk R10 000, gegee.
Adv. Hannes Cloete kla aan. Die verhoor duur voort.





