Hoewel hy die geel spaarwiel aan die Mazda CX 5 gesien het toe hy saam daaraan gewas het, het hy nie gedink dit is vreemd nie.
Dit was kort voordat sy halfbroer hom glo gevra het of hy al iemand doodgemaak het.
Só het staatsgetuie Realeboga Manyedi (21) Dinsdag (13/09) in die hooggeregshof in Kimberley getuig. Al die aanklagte teen hom is vroeër teruggetrek.
Manyedi het in die Hartswater-moordsaak getuig waarin vier beskuldigdes aangekla word van die moorde op Dan Brand (83), sy vrou, Breggie (76), en hul dogter, Elzabie (54).
Die staat voer aan die aangeklaagdes het die Brands op 26 Julie 2020 van hul perseel in Magogong in Hartswater ontvoer en vermoor.
Verskeie van hul besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda CX 5, is ook gesteel.
Die beskuldigdes is Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20). Hulle word van regsverydeling aangekla omdat hulle die lyke in Taung versteek het om die moord te verdoesel. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla.
Manyedi het Maandag oor dié voorval getuig.
Heidi Taljaard en Trudie de Beer, die oorledenes se dogters en susters, het deurentyd aantekeninge van die getuienis gemaak.
Volgens Manyedi was hy op die dag van die voorval tuis in die Motakeneng-nedersetting toe Visagie, sy halfbroer, hom omstreeks 15:00 bel en vra hy moet ’n emmer kry en hom langs die pad ontmoet.
Visagie en twee ander mans (Seoloseng en Melato) het in ’n silwer Mazda CX 5-voertuig opgedaag. Seoloseng het bestuur. Hulle is na die Direetsaneng-nedersetting.
Daar het hulle by ’n kraan stilgehou en ’n selfoon, skoolsak en skootrekenaar uit die kar gehaal en die bagasiebak wat vol bloed was, gewas.
Later wou Visagie Manyedi iets gaan wys. Hulle het in die Mazda na ’n stuk veld gery waar Visagie Manyedi glo twee keer gevra het of hy al iemand doodgemaak het.
Hulle het stilgehou waar twee mense in die bosse gelê het. Die man (Dan) was dood, maar die vrou (Elzabie) het asemgehaal. Visagie het hulle beveel om Elzabie in die bagasiebak te laai, en hulle het haar liggaam elders in die veld langs ’n boom agtergelaat.
Vandaar is hulle na die buurt Vaaltyn waar Visagie die selfoon en skootrekenaar glo vir R400 verkoop het.
Hulle het brandstof ingegooi en na die Mokasa-nedersetting gery, waar die rooi Nissan op ’n grondpad gestaan het. Manyedi het getuig die rooi Nissan se wiele was pap, maar hy en Visagie het dit by die Majaneng-gruisgroef gaan parkeer, terwyl Seoloseng hulle in die Mazda gevolg het.
Hulle het ’n lyk (Breggie) agter die voorste sitplekke van die Nissan uitgehaal en in die Mazda se bagasiebak gelaai. Sy was in ’n kombers toegedraai. Hulle het haar oorskot by Lekamone in ’n grot gelos.
Die volgende dag is hulle vier na ’n huis waar hulle vir Mpulwana ontmoet het. Gedurende die dag is die Mazda weer binne en buite gewas. Op ’n tydstip het Visagie en Mpulwana gery om iets te gaan doen. Later het hulle na ’n sangoma gery waar Visagie, Seoloseng en Mpulwana hulself wou reinig, maar Manyedi en Melato het buite gebly.
Op pad terug het die polisie hulle voorgekeer en gesê hulle soek na ’n silwer Mazda met Gauteng-registrasieplate, maar hulle s’n het Noord-Kaap-registrasieplate gehad.
Volgens Manyedi het Visagie kort daarna uit die bewegende kar gespring. Sowat 30 km voor Taung het die polisie die kar met die vier oorblywende mense weer afgetrek. Hulle het hul selfone aan die polisie oorhandig.
Hy het Breggie se lyk eerste uitgewys en die ander twee oorledenes se oorskot die volgende dag toe dit lig was.
Vroeër het konst. Harold Bok getuig hy het ’n gebarste Mazda-wiel naby die verlate Nissan gevind.
Sers. Altus Coetzee, wat agter die verdagtes aangery het voor hul inhegtenisneming, het getuig die Mazda kon nie vinnig ry nie weens die geel spaarwiel.
Die verhoor duur voort.




