Jan Heyns (37) van Alheit by Kakamas is verlede week twee lewenslange vonnisse in die hooggeregshof in Upington opgelê vir die verkragting en moord op die vyfjarige Sharne Basson.
Sharne het op 5 November 2022 vermis geraak, en ongeag ’n volskaalse soektog in die gebied kon sy nie gevind word nie.
Op 21 November is die ontbinde liggaam van ’n kind in die veld naby Alheit gevind, wat later as dié van Sharne identifiseer is.
Te danke aan speurwerk van AO Clifford Esterhuyse van die Kakamas-speurtak is Heyns as verdagte identifiseer en in hegtenis geneem. Hy was sedert sy inhegtenisneming op 21 November in aanhouding, sê kapt. Nelis Prins, polisiewoordvoerder.
Heyns het skuld op ’n aanklag van moord beken, maar ontken dat hy Sharne verkrag het. DNS-uitslae het dit egter bewys.
Genl. maj. Thabo Mphuthi, kommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, het Esterhuyse vir sy deeglike ondersoek geloof.




