Leon Victor, hoof van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley wat binnekort aftree, se kantoormure is met inspirerende slagspreuke en die erekode versier.

Foto: Charné Kemp

Vir Leon Victor – bekend as mnr. Vic – hoof van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley wat pas afgetree het, is niks so kosbaar en onvervangbaar soos ’n goeie persoonlikheidseienskap nie.

“As jy eers jou dissipline of selftrots verloor het, vind jy dit moeilik terug.”

Oudleerlinge onthou dié en ander lewenslesse op skoolreünies wanneer hulle hom terugneem na staaltjies uit een van die 40 vervullende jare wat hy hier skoolgehou het.

Leon Victor in sy kantoor wat volgende jaar deur ‘n nuwe skoolhoof beset sal word.

Skoolhoof én onderwyser

Eers as geskiedenis- en aardrykskundeonderwyser en die laaste jare as ekonomie-onderwyser, het Victor nooit ’n gr. 12-leerling gehad wat gedruip het nie. Vir die laaste sewe jaar was hy skoolhoof, maar het steeds klas gegee.

“Dit is al manier om te weet wat in jou vak, in die kurrikulum, aangaan.”

Oor die jare heen was hy by allerlei skool- en sportaktiwiteite betrokke en het hy die meisie­kadette afgerig.

“Ons skool het ’n uitstekende bestuurspan en beheerliggaam, mense wat die pad op demokratiese wyse loop, wat weet wat gedoen moet word.”

Sy kantoor is ruim, die beligting genuanseerd, die inspirasie-boodskappe en erekode aan die muur in goue letters ingebrand, soos in die wese van duisende leerlinge.

Terwyl die matrikulante vanjaar hul laaste vak geskryf het, het die skool se bekende Jakarandabome hul pers kleed afgegooi en groen lote uitgeskiet.

Op byna 65 jaar oud was sy dagboek vanjaar so vol hy kon nie veel oor aftrede dink nie.

“Onderwys is nie ’n beroep nie, dit is suiwer diensbaarheid. Om in diens te wees.”

Daarom gaan hy steeds as ’n vrywilliger by die skool in diens bly.

“Skole benodig soveel hulp en kundigheid in uitdagende tye, veral Afrikaanse skole. Ons baklei hard vir ons skool en sy gemeenskap.”

Hy sal in Januarie hier wees wanneer die uitslae van die nasionale seniorsertifikaat-eksamen bekend gemaak word.

Samewerking deel van suksesresep

Diamantveld was die afgelope jare altyd een van die drie top akademiese skole in die provinsie. Al was daar druipelinge, het 80% of meer van die matrikulante altyd met universiteitstoelating geslaag.

Diamantveld is oor die land heen, self in die buiteland, as ’n topskool bekend.

Oor die gewoonlik blou hemel hang daar deesdae wolke soos die Bela-wetgewing, skoolfonds wat nie betaal word wat help om die skool te onderhou nie, en burokratiese tameletjies.

“Kimberley kan nie bekostig dat ’n topskool soos Diamantveld net gemiddeld word nie. Ons bedrywighede hou verskriklik baie besighede aan die gang en het geweldige goedgesindheid van besigheidsmense wat verstaan waarmee ons besig is.”

Die skool het in die afgelope jare nie net gegroei nie, maar sterker geword. Dit is ’n hawe vir leerlinge wat in akademie, kultuur en sport wil presteer. Dit is hoekom die skool meer koshuise vir talentvolle leerlinge van elders wat wil uitstyg, inrig.

Leon Victor se selfie wat hy met die matrikulante van 2024 geneem het.

Programmatuur is ook aangekoop waarin leerlinge wat sukkel gereeld klasse bywoon om leesvaardighede op die duur vas te lê.

“Dit verg harde werk om standaarde te handhaaf en die geboue in stand te hou. Met die hulp van wonderlike beheerliggame oor die jare heen, en die ondersteuning van gemeenskappe en besighede, kon ons dit doen.

“Diamantveld is dié skool in die Noord-Kaap vir gehalte-onderwys en sportgeleenthede, en moet dit bly. Ons het gekwalifiseerde onderwysers en uitstekende sportgeriewe met spesialis-afrigters en kondisioneerders.”

Dié skool en ander skole het om die bekende sirkel by die Honoured Dead Memorial hande gevat en samewerkingsooreenkomste gesluit. In die ooreenkoms met die Kimberley Boys’ High School gaan hul een sportveld in ’n astro-hokkiebaan omskep word en alle leerlinge afgerig word. ’n Ander sportveld gaan na ’n rugbyveld verander word, gepaardgaande met die nodige sportafrigting.

Leon Victor by die sportterrein wat al meer as tien jaar die plek is waar die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooie en ander sportgeleenthede oor die jare heen aangebied is.

Trek nie wortels uit Kimberley 

Mnr. Vic gaan die eerste kwartaal van volgende jaar steeds die Dugmore-koshuisvader wees, voordat die nuwe een opdaag.

Hy trek sy wortels net uit die skoolterrein, maar nie uit Kimberley nie. Dalk sal hy fikser probeer word, danksy minder verpligtinge.

“Ek het die Wes-Kaap waar ek grootgeword (en aan die Hoërskool D.F. Malan matrikuleer het) ontgroei. Ná skool is ek weermag toe, het aan Universiteit Stellenbosch studeer en een jaar in Douglas skoolgehou voordat ek in 1984 vir die pos by Diamantveld geskiet het. Dit is hier waar ek my vrou, Paula, in 1988 op ’n toe-oë afspraak vir die skool se matriekafskeid ontmoet het.”

Leon Victor as jong onderwyser in 1988 by die destydse leerlingraad wat in die skool se jaarboek verskyn het.

Hul dogters, Leola en Nicola, is reisigers wat hulle vir eers in Europa tuisgemaak het.

Hy het sy lewe lank gewerk, en sal nooit ophou nie. Dit is deur jarelange “harde, eerlike werk” dat hy tot skoolhoof bevorder is.

“Ek is nie een wat rondtrek om bevorder te word nie.”

Hy sê kinders van vandag verskil nie van 40 jaar gelede nie.

“Ek is nie van dié geslag van vandag wat soveel meer vryheid het nie. Vroeër jare moes leerlinge tydens eksamens by die skool wees, of hulle skryf of nie, en take verrig. Vandag teken die ouers hul kinders uit wanneer hulle klaar eksamens geskryf het. Ek moet hierby aanpas, maar ek is onseker of dié soort vryheid ten goede is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article