’n Gedenkwaardige klipgebou wat eens die eerste polisiekantoor op Daniëlskuil was en glo deur die polisie as woonkwartiere gehuur word, staan vervalle, verwaarloos.
Dit is skuins oorkant die speurtak se kantoor. Met dwelmslawe en prostitute wat die gebou vir hul aktiwiteite gebruik, vrees inwoners vir hul lewe.
Annatjie Kock wat reg agter die vervalle gebou bly, sê “dit is ’n skande. Nie net is die gebou van geskiedkundige waarde nie, maar die polisie en die departement van openbare werke en paaie waaraan die gebou behoort, laat die verval toe. Die water loop gedurig uit die gebreekte pype, die gebou geplunder.”
Dit het al meer as ’n jaar gelede begin,” sê sy. “Ek het al soveel oproepe na die polisie in Upington en die departement in Kimberley gemaak. Elke keer sê die departement hulle sal iemand uitstuur om te kyk, maar niks gebeur nie. Die polisie sê weer hulle kan niks doen aan die gebou of die misdadigers nie. Intussen neem die misdadigheid toe. Die dwelmslawe en prostitute breek alles af. Ons het al iemand se bankkaarte in die gebou opgetel.
“Ek is moeg gesukkel. Ek het al selfs mense R1 000 betaal om die erf skoon te maak, maar hoekom moet ek dit doen? Dit is hartverskeurend om te sien wat met die gebou gebeur. Op ’n tydstip was dit ook die kommandokantoor. Dit gaan ten gronde.”
Lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê volgens hul distriksbevelvoerder behoort die gebou nie aan die polisie nie.
Die departement van openbare werke het nie op navrae reageer nie.
Volgens ’n ingeligte het ’n amptenaar van die departement egter Donderdag (16/03) opgedaag en ’n kennisgewing teen die deur geplak. Luidens die kennisgewing is die gebou te huur en moet enige navrae aan die provinsiale departement van paaie en openbare werke gerig word.
Die amptenaar was besorg oor die water wat uit die pype lek, asook die toestand van die gebou. Hy het onderneem om so gou as moontlik ’n sekuriteitswag aan te stel. Die plan is glo om die gebou van die polisie weer na die departement oor te dra, sê die ingeligte.




