Lede van die publiek wat nie ’n fisieke gestremdheid het nie, weerhou persone met gestremdhede van toegang tot onder meer winkelsentrums wanneer hulle “net vir ’n paar minute” op ’n spesiale parkeerplek parkeer wat gereserveerd is vir persone met gestremdhede.
Na aanleiding van ’n berig en foto in die NoordkaapBulletin op 9 November 2023 van die burgemeestersvoertuig van die Sol Plaatje-munisipaliteit wat op só ’n gereserveerde parkeerplek voor ’n winkelsentrum parkeer is, het belanghebbendes van die Vereniging van en vir Persone met Gestremdhede (APD) Frances Baard-distrik, hulle sterk daaroor uitgespreek.
“Die publiek is oor die algemeen oningelig oor die doel van toeganklike parkeerplekke vir persone met gestremdhede.
“Dié parkeerplekke word uitgesonder vir die uitsluitlike gebruik deur mense wat mobiel gestremd is, maar word dikwels deur Jan en Alleman misbruik.
“Persone met gestremdhede meen die publiek behoort oor die redes vir hierdie spesiale parkeerplekke ingelig te word,” vertel Dorothy-Anne Howitson, sekretaris van die APD Frances Baard-distrik.
Wet, regulasies van toepassing
Parkeerplekke vir motoriste met ’n erge verlies in mobiliteit of fisieke gestremdheid moet minstens 3,5 m wyd wees. Kleiner afmetings verhinder dat ’n betrokkene van of na ’n rolstoel verplaas kan word.
Vir dié rede word duidelik aangeduide parkeerplekke, met geel grense en ’n rolstoelteken in die middel van die oppervlak, onder die amptelike padverkeerstekens deur die Padverkeerswet, aangedui.
Die blou tekens met ’n wit rolstoelteken bo-aan ’n paal, word normaalweg ook by die voorkant van die parkeerplek aangebring.
Volgens die bouregulasies moet dié parkeerplekke ook binne 50 m van ’n toeganklike ingang van die gebou wees.
Die parkeerplekke is telkens onder dak, wat noodsaaklik is in reënweer, aangesien die persoon sy of haar rolstoel uit die motor moet haal en langs hom of haar moet opstel, en dan eers van die motorsitplek na die rolstoel verplaas. As daar nie skuiling is nie, word die rolstoel sopnat voordat die persoon daarop kan verplaas.
Mensereg, nie gerief
Dit is nie ’n kwessie van gerief vir persone met gestremdhede nie, maar ’n mensereg om toegang te verkry tot dieselfde geriewe op gelyke basis met ander.
Wanneer iemand wat nie daarop geregtig is om so ’n parkeerplek te gebruik nie, dit wel gebruik – al is dit “net vir ’n paar minute” – strem hulle diegene wat daarop geregtig is en weerhou hulle die individu om toegang tot die gebou te kan kry.
Dieselfde persoon sal waarskynlik hoogs ontsteld wees as hul kar se deur gekrap of gestamp is deur iemand wat in ’n gewone parkeerplek in ’n rolstoel probeer verplaas omdat daar nie ’n toeganklike parkeerplek beskikbaar is nie.

Uit desperaatheid parkeer rolstoelgebruikers dan gewoonlik ver van die ingang af waar min ander voertuie is sodat hulle net uit hul voertuig kan kom.
Maar wat gebeur wanneer hulle na hul voertuig terugkeer en die hele parkeerarea is vol? Ja, weer word hulle gestrem omdat hul nie in hul eie voertuig kan kom nie.
Talle frustrasies bestaan
Volgens belanghebbendes is wetstoepassing ’n groot uitdaging.
Daar is nie ’n stel standaard-regulasies in Suid-Afrika waarvolgens dít kan geskied nie.
Dit lei tot talle frustrasies, veral vir diegene wat graag reis, aangesien elke plaaslike owerheid beheer oor sy eie stelsel het waarvolgens parkeerskyfies uitgereik word en wetstoepassing voorgeskryf word.
Skyfies wat in een munisipale gebied verkry kan word, is dus nie noodwendig in ’n ander gebied geldig nie.
Die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede (NCPD) is van mening dat een standaardstelsel met dieselfde parkeerskyfie wat oor die land heen gebruik kan word én wat deur die nasionale departement van vervoer onderskryf word, dringend nodig is.
Nie alle mense met ’n liggaamlike gestremdheid het mobiele beperkinge nie, met die gevolg dat alle “gestremdes” nie noodwendig vir so ’n parkeerskyfie in aanmerking kan kom nie.
Toeganklike parkeerplekke was aanvanklik vir die gebruik deur parapleë toegeken.
Deesdae sluit die term mobiele beperkinge egter kwadrupleë, mense met amputasies, serebrale gestremdheid, wie beroerte gehad het of enige ander siektes of toestande wat die beweging van die betrokkene erg belemmer óf onmoontlik maak, in.
Iemand wie se hand geamputeer is, sal byvoorbeeld nie vir die toekenning van so ’n parkeerskyfie oorweeg word nie, aangesien die persoon se mobiliteit nie aangetas is nie.
Tans word keuring vir die parkeerskyfies deur die personeel van die verkeersafdeling behartig.
Parkeerskyfies word aan die betrokkene self uitgereik, met verwysing na sy of haar naam en identiteitsnommer en nie vir ’n spesifieke voertuig met verwysing na die registrasienommer nie.
Skyfiehouers kan dus die skyfie in enige voertuig kan gebruik.
“Kom ons dink almal twee maal voordat ons hierdie parkeerplekke misbruik,” vra Howitson.
“Faux pas”
Na aanleiding van ’n medianavraag ná die burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit se voertuig net ná 09:00 op die gereserveerde ruimte parkeer was terwyl talle ander parkeerplekke beskikbaar was, is gesê dat dit ’n “faux pas and grave mistake” was, hoewel die burgemeester nie tydens die voorval vervoer is nie.
Hierna het die APD Frances Baard-distrik ’n skrywe aan die uitvoerende burgemeester Kagisho Sonyoni gerig.
In die skrywe is dit onder sy aandag gebring dat die burgemeester en sy personeel ’n voorbeeld vir die publiek moet wees. Die vereniging het voorgestel dat die oortreder ten minste ’n ondersteunende hulpmiddel aan ’n persoon met ’n gestremdheid en wie dit nie kan bekostig nie, behoort te skenk as erkenning van die “faux pas” wat met die parkeerdery plaasgevind het.
Tot op hede is geen terugvoer van die burgemeesterskantoor ontvang nie.




