Binne enkele minute kan miere opgelei word om kanker uit te snuffel.
Dit is met ’n studie uit Europa bewys.
’n Span wetenskaplikes van verskeie instellings in Frankryk – die CNRS, Université Sorbonne Paris Nord, Institut Curie en Inserm – het gewys hoe die Formica fusca-mierspesie ná ’n paar minute se opleiding tussen gesonde en kankeragtige selle in die mens kan onderskei.
Om kanker vroegtydig op te spoor is ’n reuse-uitdaging in die gesondheidsektor. Luidens ’n artikel deur die CNRS is die huidige metodes, soos MRI-skanderings en mammogramme, dikwels peperduur en ingrypend, wat die toepassing daarvan op ’n groot skaal beperk.
Om hierdie beperkings te omseil word alternatiewe metodes bestudeer, soos om diere en insekte se reuksintuig in te span.
Daar is bewys dat insekte die selle – of vlugtige organiese verbindings – van kanker kan identifiseer.
Die vaktydskrif iScience berig die reuke van verskillende kankerselle het byvoorbeeld spesifieke olfaktoriese reseptorpatrone in die antenna van ’n vrugtevlieg opgewek, wat aandui dat ook hierdie insekte as kankerbioverklikker gebruik kan word.
Luidens die artikel het wetenskaplikes voorheen demonstreer dat individuele miere van die Formica fusca-spesie vinnig leer om ’n reukstimuli met ’n kosbeloning te vereenselwig.
Die miere kan dié inligting vir ’n aantal dae behou.
Deur die chemiese verbindings van verskeie selle te ontleed het die wetenskaplikes gewys dat elke sellyn sy eie reuk het.
Miere kan ingespan word om dit op te tel, volgens die CNRS.
Die doeltreffendheid van hierdie metode moet met kliniese toetse op ’n mens vasgestel word, maar die eerste studie bewys dat miere baie potensiaal het en vinnig leer. Dit kos ook nie baie geld nie en is volgens die wetenskaplikes doeltreffend.





