Onreëlmatige, ongemagtigde en vrugtelose uitgawes by Noord-Kaapse munisipaliteite beloop meer as R5,19 miljard. Aangesien die algehele begroting R10 miljard was, beteken dit meer as die helfte van die besteding moet bevraagteken word.
Só sê Fawzia Rhoda, LPW en die DA se provinsiale woordvoerder van finansies, oor die nuutste munisipale ouditverslae.
“Die verslegting in munisipale ouditverslae vir 2021-’22 is geen verrassing vir inwoners wat die spit afbyt met swak dienslewering wat uit finansiële wanbestuur voortspruit nie,” sê Rhoda in ’n verklaring.
Meer as 90% van Noord-Kaapse munisipaliteite betaal nie hul rekeninge binne 30 dae nie. Dit sluit rekeninge van Eskom en ander diensverskaffers in en skep ekstra finansiële druk met die heffing van boetes. Toelae word steeds gebruik om salarisse te betaal eerder as om infrastruktuur op te knap. Die wortel van baie finansiële euwels is onvermoë om kontant en kontantvloei behoorlik te bestuur.
Slegs vier uit die 24 dissiplinêre rade in die provinsie word as effektief beskou. Dit bevestig die gebrek aan politieke wil om die hoofoorsake van swak oudits en swak dienslewering aan te spreek, sê Rhoda.
Sy sê daar moet gevolge wees vir diegene wat openbare geld nie tot openbare voordeel aanwend nie, maar vir persoonlike gewin of politieke voordeel.


