Sewe nuwe skole is in aanbou in die Noord-Kaap; 85 skole is as hoë risiko betreffende inbrake, vandalisme en diefstal geïdentifiseer; en lewensvaardigheidsonderrig gaan in die kurrikulum ingebring word in ’n poging om tienerswangerskappe – sommige by leerlinge so jonk as tien jaar oud – te verminder.
Dit is van die punte wat Zolile Monakali, Noord-Kaapse LUR van onderwys, op 20 Junie tydens sy departement se begrotingsrede aangeroer het. Hy sê die begroting van die departement vir die 2023-’24-geldjaar is R8,067 miljard.
Lewensvaardigheidsonderrig gaan in die kurrikulum ingewerk word in ’n poging om dit hok te slaan, asook buitemuurse projekte. ’n Strategie tussen drie departemente word finaliseer om skadelike sosiale kwessies aan te spreek.
In reaksie op die internasionale meningspeiling dat 81% van gr. 4-leerlinge nie met begrip kan lees nie, het Monakali verskeie projekte ter verbetering hiervan uitgelig.
Met die oog op ’n 80%-slaagsyfer vir vanjaar se matrikulante, kry elke gr. 12-leerling ’n tablet met programme en studiegidse, en vakansiekampe en Saterdagklasse word aangebied.
Die loodsprogram vir kodering en robotika gaan voort. Sukses is reeds behaal met die robotikaspan van die Hoërskool Carnarvon wat die First Lego-liga in Mei in Marokko bygewoon het en die 33ste plek uit 66 behaal het. Met die inwerkingstelling van die eerste tien Cyberlabs in die provinsie het 9 995 leerlinge tydens 451 sessies tyd daarin deurgebring.
Altesaam 404 skole in kwintiel 1 tot 3 is as geen-geld-skole verklaar waar skoolfonds nie betaal word nie.
Altesaam 721 nuwe vroeë kinderontwikkeling (VKO)-praktisyns is vir drie jaar aangestel, en 289 aanstellings vir onderwysers is gedoen by skole wat aansoek gedoen het.
Die departement is besig met finale reëlings om die VKO-funksie onder hom in te skuif en toe te sien dat skole wat dit nie het, gr. R-klasse kry.
In die Noord-Kaap is 46 skole as gedeeltelik ongeskik verklaar weens strukturele foute, en 43 skole in die geheel ongeskik. Die herstel of vervanging van die skole sal na beraming R3,9 miljard kos, en sal oor verskeie geldjare afgehandel word.
Vier vervangingskole is in verskillende stadiums van aanbouding, en sluit die Hoërskool Carlton van Heerden en die Oranje-Oewer Intermediêre Skool in die ZF Mgcawu-distrik in, die Laerskool Petrusville in Pixley Ka Seme, en die Laerskool Rietrivier in Frances Baard.
Gedeeltelike vervangingsprojekte vind by die Laerskool Homevale en -Venus in die Frances Baard-distrik plaas, en by die Laerskool Ikhaya in Pixley Ka Seme.
Die nasionale skoolvoedingsprogram gaan voort en verskaf daagliks een maaltyd aan 267 100 leerlinge.
’n Tender vir leerlingvervoer word finaliseer om veilige en betroubare vervoer van en na skole te verseker. Die departement is vir die vervoer van 26 078 leerlinge op 427 roetes verantwoordelik.
’n Eerste is die loods van ’n leerling-bestuurslisensie-program vir leerlinge 17 jaar en ouer,. Die departement is besig om ’n ope tender vir die program te adverteer.
Monakali het Viki Mpompolas, ’n onderwyser aan die Hoër Tegniese Skool Kimberley (HTS Kimberley), gelukgewens met die benoeming deur die minister van basiese onderwys om vir die 2023 African Union Teacher Prize Award in te skryf.




