Ouerbetrokkenheid is die een aspek wat uitstaan by al nege Noord-Kaapse skole wat ’n 100%-slaagsyfer met 2023 se matriekeksamens behaal het.
Dit is volgens die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul. Hy was een van die sprekers tydens die bekendmaking van die matriekuitslae deur die provinsiale departement van onderwys op Vrydag 19 Januarie in Kimberley.
Altesaam 13 032 matrikulante uit die provinsie het die eksamen geskryf, met 9 740 wat geslaag het.
Die Hoërskool Hopetown en Prieska het vir die vyfde opeenvolgende jaar ’n 100%-slaagsyfer behaal.
Ander skole met ’n 100%-slaagsyfer is die Futurum Academy, Hoërskool Martin Oosthuizen, Calvinia, Douglas, Hotazel, Noupoort Christian College en Sediba Academy.
Die Hoërskool Hopetown is weer as die beste openbare skool in die provinsie aangewys, gevolg deur Diamantveld in die tweede plek en Kimberley Girls’ High School derde.
Futurum Academy, Sediba Academy en Noupoort Christian College is onderskeidelik as die wenner, naaswenner en in die derde plek van onafhanklike skole aangewys.
Die Hoërskool Nababeep is aangewys as die skool wie se matriekuitslae die meeste verbeter het; met 42,4%.
Altesaam 20 skole in drie distrikte het ’n slaagsyfer van minder as 60% behaal. In dié afdeling het die Hoërskool Homevale in die Frances Baard-distrik die swakste gevaar, met ’n slaagsyfer van slegs 21,1%, en die Hoërskool Lesedi in die John Taolo Gaetsewe-distrik met 39,8%.
Saul sê ’n provinsiale verbeteringsplan wat deur die departement van onderwys ontwikkel moet word, sal programme insluit wat onder meer op onderpresterende skole fokus.
Oor die provinsiale slaagsyfer sê die opposisieparty dat die basiese boustene van basiese onderwys reggeruk moet word.
Dr. Isak Fritz, LP en die DA in die Noord-Kaap se premierskandidaat, sê dat sosio-ekonomiese euwels tot die hoë uitsaksyfer bydra.
Vrydag is die 20 topleerlinge in die provinsie vereer, asook die beste matrikulant in elke vak. Elk van die 20 topleerlinge ontvang onder meer R10 000 kontant, ’n skootrekenaar en tablet.
Saul het gesê dat elke meisie wat deel van die 20 topkandidate is, R15 000 van die premier se kantoor ontvang as deel van ’n poging om vroue te bemagtig.






