Emae Fourie is tweede op die lys van die 20 topkandidate in die Noord-Kaap, en is dié provinsie se toppresteerder in wiskunde.
Dié leerling aan die Hoërskool Duineveld in Upington, wat sewe onderskeidings in die eindeksamen behaal het, gaan BCom aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
“Ek het net op die Here vertrou. Ek sou niks sonder Hom kon gedoen het nie. Hy was die enigste een daar toe die aande laat en ek moeg geraak het,” vertel sy oor die sukses wat sy behaal het.
Emae sê sy gaan die samehorigheid wat sy by die skool beleef het, mis.
“Duineveld was my tweede familie en ek sal dit nie vinnig kan vervang nie,” sê sy.
Sy sien uit na die vryheid wat sy op universiteit gaan beleef, en ook om nuwe vriende te maak.
Een groot verandering wat sy vir die mensdom hoop is dat mense meer moet glimlag en die lewe nie te ernstig opneem nie.





