“Dis maklik vir glyjakkalse om aanloklike pryse aan te bied met die belofte om die probleem met beurtkrag vinnig op te los.”
Só sê private ondersoeker Mike Bolhuis.
“Sy advertensies is vol aanlynfoto’s van sonkragstelsels wat waarskynlik nie sy eie is nie. Hy is nasionaal met sy bedrywighede besig. Dit klink te goed om waar te wees.
“Hy kan nie ’n deposito vat as hy nie voorraad geredelik beskikbaar het nie. Die geld van die kliënte mag net vir die betrokke diens of produk gebruik word. Anders is dit wanvoorstelling, bedrog en diefstal.
“Ons het nuwe inligting dat Krüger/Dieckmann nou kripto-geldeenhede verkoop. Die selfoon nommer wat hy gebruik is 072-985-4727. Enige klagtes kan na ons gestuur word. Ons waarsku mense om eers deeglike ondersoek te doen voordat hulle enige aanlyn verkope of aankope doen,” sê Bolhuis.
Lleola Vorster van Bloemfontein sê Krüger moet “boet vir sy dade”.
“Ek het in Maart 2022 sowat R168 000 aan hom oorbetaal. Geen installering is gedoen nie en hy het my talle oproepe ignoreer toe niks installeer word nie. Ek het aanvanklik net ’n siviele saak teen hom aanhangig gemaak, maar die balju en prokureur kry hom nêrens om ’n dagvaarding op hom te beteken nie. Ek het nou ’n klag by die polisie ingedien. Ek is ’n weduwee wat later dalk nie meer elektrisiteit kan bekostig nie. Ek bly op ’n kleinhoewe waar ons benewens beurtkrag ook gereelde kragonderbrekings kry. Dit het eenkeer 47 uur geduur.”
Aanvanklik was sy skepties oor die groot deposito wat hy eis, “maar goeie aanlyn resensies oor sy werk het my oortuig.”
Nadat sy die geld betaal het, het hy telkens beloof dat die toerusting afgelewer sou word.
“Hoe meer ek hom gebel het, hoe meer was die verskonings. Hy het my later op sosiale media geblok en antwoord nie my oproepe nie. Ek het hom eenkeer van my dogter se foon gebel, toe antwoord hy.
“Ek het gevra of hy ’n Christen is. Ek het gesê ek hoop nie dat sy kinders soos wat die Bybel sê onder sy sondes moet ly nie. Toe skryf sy prokureur ’n brief aan myne waarin hulle beweer ek dreig hulle.”
Nog ’n klaer, Steyn de Klerk, sê hy het Krüger vertrou.
“Hy is getroud met iemand saam met wie ek 12 jaar op skool was. Daarom het ek hom vertrou. Ek en die maatskappy waarvoor ek werk het saam R187 000 vir die stelsel betaal. Hy het net verdwyn en nooit ’n installasie gedoen nie.”
De Klerk het vir Bolhuis gevra om ondersoek te doen.
Hilda Brits se verloofde, Peet Viljoen, wat R500 000 aan Krüger uit sy skeidingspakket van die myn in Kathu geleen het, het twee jaar gelede sy eie lewe geneem.
Brits sê Viljoen het in sy briefie geskryf hy het alles verloor, en sien nie meer kans vir die lewe nie.
“Nou moet ek op byna 60 jaar ’n bewaarskool begin om kop bo water te hou. Daar was niks in Peet se boedel oor nie.”
Volgens haar was Krüger en sy vrou “soos kinders in ons huis. Peet het sy laaste geld net voor hul troue aan hom gegee.”
Pieter en Mariëtte Benade het Krüger R135 000 betaal en toe hy verdwyn, nog R100 000 aan regskostes bestee.
“Toe ek hom bel en vra wanneer die stelsel installeer word, was sy verskoning dat hy pas ’n vasektomie gehad het. Nog ’n verskoning was dat een van die steke los geraak het, en hy ongesteld is. Ons het hom insolvent laat verklaar, maar die balju kry hom nie in die hande nie, want hy moet voor ’n landdros verskyn vir die ondervraging. Dit lyk of hy net sy foon aansit, boodskappe kyk, besigheid doen, en dan skakel hy dit weer af.”
Riaan Noëth wat naby Niekerkshoop boer het jare lank kragopwekkers gebruik tot die laaste een gebreek het.
“Ek het op sonkrag besluit en baie huiswerk aanlyn gedoen. Phillip kon genoeg panele en ’n wisselrigter bied. Hy is weg met my deposito en het toe alle kommunikasie met my geblok. Vandag sit ek platsak en sonder Eskom-krag- of ’n sonkragstelsel.
“Hy het ’n saak van naamskending teen my aanhangig gemaak oor vrae wat ek oor sy werkswyse op sosiale media geplaas het. Niks het van sy dreigemente gekom nie. Die plaaslike polisie het ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming.”
Lt. kol. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek verskeie aanklagte van bedrog.
- “Die ondersoek duur voort, en geen inhegtenisneming is al gemaak nie. Enigeen met inligting kan ao. Benny Fourie by 082-495-1070 bel of anoniem SMS’e na 32211 stuur of die MySAPS app gebruik.” Lees die volledige berig gratis by netwerk24.com. Klik op Streeknuus, kies NoordkaapBulletin en soek na die opskrif, “Onstelde lede van publiek waarsku teen sonkraginstalleerder”.





