Moses Moalusi, die Noord-Kaapse uitvoerende komiteelid van die ANC wat in omstredenheid gehul is nadat dit bekend geword het hy ontvang twee staatsalarisse, het Woensdagmiddag 27 September “teensinnig” as ANC uitvoerende lid bedank.
Hy het ’n maandelikse salaris van R35 000 van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit en ’n salaris van R811 000 per jaar by die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling as “portefeuljekoördineerder” ontvang.
Deshi Ngxanga, provinsiale ANC-sekretaris, sê Moalusi was onwillig om te bedank.
“Ek het aan hom gesê indien hy dit nie doen nie, sal ons verplig wees om hom af te dank, waarna hy sy bedanking ingedien het.”
In ’n vroeëre brief aan Moalusi, kort nadat die nuus uitgelek het, het Ngxanga vir Moalusi versoek om vrywillig te bedank.
“Ons het in navrae en sosiale media verneem van die pos by die departement, en die ontplooiing by die munisipaliteit waarvan jy sal weet,” skryf hy in die brief.
“Die nuus het wyd en vinnig op sosiale media versprei en het ook nasionale mediadekking gekry. Ek het in ’n verklaring bekend gemaak dat jy as uitvoerende komiteelid geskors is. Jy het die volgende dag ’n terugbetaling van R106 000 aan die munisipaliteit gemaak.
“Ons versoek jou om te bedank, om jouself ’n guns te doen en reputasieskade aan die ANC te beperk. Die ANC hoef dan nie verdere vrae oor ons vernuwings-benadering te beantwoord nie.
“Ons verstaan dat strafregtelike aanklagte teen jou aanhangig gemaak is. Indien jy bedank, verval die party se tugstappe teen jou en kan jy jou tyd aan die hangende strafregtelike aanklagtes bestee.”
Indien Moalusi nie vrywillig wil bedank nie, moet hy die ANC spoedig inlig hoekom hy glo hy het nie sy lidmaatskapseed oortree nie, nie oneties en immoreel opgetree en nie die ANC in ’n swak lig geplaas nie.
Volgens Pakes Dikgetsi, nasionale Cope-komiteelid wat die knoeiery openbaar het, is dit ’n kriminele oortreding wat deur hom, die munisipale bestuurder en die waarnemende departementshoof gepleeg is.
Dikgetsi het reeds ’n klag van bedrog by die polisie ingedien.
Hy sê die pos van portefeuljekoördineerder bestaan nie in die ministeriële handboek nie. Die handboek bepaal die personeelgetalle en hul funksies in die kantoor van die LUR.
Martha Manyehe, munisipale woordvoerder, het nie geantwoord wat Moalusi se pos by die munisipaliteit was en hoeveel hy altesaam verdien het nie.
McDonald Silingile, departementele woordvoerder, het nie reageer op vrae of Moalusi steeds in diens van die departement is en of sy pos in die ministeriële handboek verskyn nie.





