Byna sewe jaar nadat Cornelius (Corné) Vermeulen, toe 18, sy pa se vriendin Serifa Brown op ’n plaas doodgeskiet het, is hy Vrydag (24/02) in die hooggeregshof in Kimberley aan haar moord skuldig bevind.
Dit kom vier jaar nadat die verhoor, wat weens sielkundige waarneming vertraag is, begin het. Die voorval het op 21 Mei 2016 op die plaas Jonkerwater buite Prieska plaasgevind.
Die enigste twispunt tussen die staat en verdediging was of Vermeulen ten tyde van die gebeure die verkeerdheid van sy dade besef het. Die staat het aangevoer hy was toerekeningsvatbaar, terwyl hy sy posttraumatiese stressteuring (PTSS) die skuld gegee het.
Regter Lawrence Lever het bevind Vermeulen het nie kort voor die voorval aan PTSS gely nie en sy deskundige getuienis verwerp.
Vermeulen het vroeër getuig hy en drie werkers was daardie Saterdag bedrywig op die plaas voordat hulle teen sononder na hul huise teruggekeer het. Vermeulen en twee werkers sou later die aand jakkalse jag. Toe hy in die woonstel kom, was Brown besig om TV te kyk. Sy was glo dronk.
Hulle was in ’n woordewisseling betrokke omdat hy honger was en sy nie kos gemaak het nie. Sy het geld na hom gegooi en ’n aanmerking oor sy ma gemaak. Hy het haar met sy arm van agter gewurg. Hulle het eers op die bed beland, en sy het hard met haar kop op die grond geval. Hy het haar geskud en haar naam geroep.
Omdat hy gedink het sy is dood, het hy ’n sak gaan haal om oor haar kop te sit sodat die bloed nie die vloer bevlek nie.
Hy het ’n kombers gaan haal om haar in te begrawe, maar toe ’n geluid gehoor. Sy was regop en het voor hom uitgevlug. Hy het die .22-geweer uit die bakkie gehaal en skote op haar geskiet.
“Ek het geskiet, en geskiet,” het hy getuig. Sy het geval, waarna hy na haar kop geskiet het.
Toe hy by haar kom, het hy die loop teen haar kop gesit en weer geskiet. Hy het toe op die honde begin skiet. Een van die honde is teen die bakkie verbrysel.
Volgens hom het hy nie geweet wat hy gedink het, of die verkeerdheid van sy dade besef nie. Hy het sy pa gebel, ’n vuur gemaak en bier gedrink voor hy na die plaaswerker gegaan het.
Vermeulen, wat onskuldig gepleit het, se verweer was dat hy aan ’n geestesongesteldheid gely het en nie die vermoë gehad het om die ongeoorloofdheid van sy daad te begryp nie.
Nadat hy die staat se eerste sielkundige verslag betwis het, het die regter dit tersyde gestel en beveel dat ’n nuwe paneel van drie psigiaters weer ’n sielkundige waarneming doen.
Die deskundiges se eenparige bevinding was dat hy ten tyde van die misdaad die vermoë gehad het om tussen reg en verkeerd te onderskei en daarvolgens op te tree.
Vermeulen se regspan het dit egter betwis en dr. Lenmariè Stanton, ’n kliniese sielkundige, aangestel om ’n verslag op te stel. Stanton het ook getuig.
Regter Lever het Stanton se getuienis verwerp omdat dit nie met haar bevindings in haar verslag ooreenstem nie.
Hoewel sy bevind het dat Vermeulen vooraf aan PTSS gely het, is daar geen onderliggende basis vir haar diagnose wat aan kriteria getoets kan word nie.
Uit sy eie en ander getuienis blyk dit Vermeulen het ten tyde van die dade en net daarna nie verward of deurmekaar voorgekom nie.
Vermeulen se ma en huisdokter is ook nie as getuies geroep om oor sy geestestoestand voor die voorval te getuig nie.
Die voorvonnisverhoor is tot 28 April uitgestel. Vermeulen is op borgtog van R3 000 vrygelaat, maar mag nie die distrik verlaat nie en moet hom weekliks by die polisiekantoor aanmeld.
Advv. Rodney Makhaga en Quinton Hollander kla aan. Adv. Ferdi van Heerden verskyn vir Vermeulen in opdrag van Herman van Heerden Prokureurs.





