’n Middeljarige man is Dinsdag (22/11) in die vroeë oggendure in sy huis in ’n veiligheidskompleks in Die Erwe, Douglas, in die Noord-Kaap tydens ’n inbraak voor sy vrou doodgeskiet.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die Noord-Kaapse speureenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek ’n saak van moord.
“Die bewering is dat ’n inbreker die slagoffers se huis binnegedring, op hulle geskiet en die man noodlottig gewond het.
“Ná die voorval het die verdagte met sekere items van die egpaar van die toneel gevlug, waaronder juwele. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
“Enigiemand met bruikbare inligting kan die ondersoekbeampte, kol. Corrie Coghlan, by 071-686-0020 of die misdaadvoorkomingsnommer 08600 10111 bel,” sê Tawana.
Volgens ’n ingeligte wat kort ná die voorval op die toneel was, het die egpaar net meer as ’n jaar in die kompleks gewoon.
Die voorval het omstreeks 03:30 gebeur, en meer as een inbreker kon betrokke gewees het.
“Die vrou het wakker geword toe sy ’n geluid teen die kamervenster gehoor het. Sy het haar man gevra hoe laat dit is, want haar selfoon wat gewoonlik by haar bedkassie was, was nie daar nie.
“Nadat sy weer ’n geluid gehoor het, het sy na die sitkamer geloop waar sy in ’n gemaskerde man vasgeloop het. Die TV-stel was weg. Sy het gegil, waarna haar man ook in die vertrek gekom het.
“Die indringer het op haar man geskiet omdat hy geweier het om die kluis oop te maak. Die vrou het uit vrees die kluis oopgemaak en geld aan die indringer gegee, waarna hy gevlug het. Volgens die vrou was sy bewus van nog ’n indringer, maar kon hom nie sien nie. “
Die ingeligte sê die vrou het hard gegil en die bure om hulp gevra.
“Agterna het hulle ontdek dat die man se vuurwapen wat in sy bakkie toegesluit was, ook vermis is. Die elektriese heining was geknip en die gekoppelde alarm was skynbaar buite werking.
“Die inbrekers het glo oor ’n muur van die aangrensende skoolterrein gespring.”





