Maak heerlike seslaagkoekies in ‘n japtrap.

Foto: Argief Credit: Helena Barnard

Die lekkerny, genoem seslaagkoekies, is die ideale teetyd-versnapering saam met vriendinne, of om in ’n kosblik te pak. 

Die resep is byna so maklik soos om alles net in lae op ‘n bakplaat te sprinkel. Dit maak 24 stukke.

Jy benodig

½ koppie (125 g) botter, in blokkies gekap

1½ koppie koekies, gekrummel (Tennis-beskuitjies)

200 g donkersjokolade, fyn gekap

1 koppie gladde onversoete grondboontjiebotter

1½ koppie klapper

2 koppies malvalekkers, gekap

1 blik (410 g) kondensmelk 

So maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180° C. Plaas die botter direk in ’n oondpan van 22 cm x 33 cm en plaas dit in die warm oond om te smelt.

2. Haal die warm pan uit die oond en sprinkel eers die koekiekrummels, en dan die gekapte sjokolade eweredig oor die botter. Stip die grondboontjiebotter rofweg daaroor en daarna die klapper en malvalekkers. Gooi die kondensmelk eweredig bo-oor.

3. Bedek die bakplaat met foelie (sodat die malvalekkers nie brand nie) en bak vir 25 mintue. Verwyder die foelie en bak oop vir nog 5 minute. Laat koel dit heeltemal af voordat jy dit in stafies sny. In ’n lugdigte houer hou dit vir een week. 

  • Vir variasie kan jy die Tennis-beskuitjies met soutbeskuitjies vervang (soos Salticrax of Cream Crackers) en ’n laag gekapte neute saam met die klapper oorstrooi. 

– Weg!, 13 Julie 2022, Aletta Lintvelt. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article